![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2017/07/over-legislation-of-the-labour-market-will-only-harm-employees-768x512.jpg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2017/07/over-legislation-of-the-labour-market-will-only-harm-employees-768x512.jpg",
"wpYear": "2017",
"wpMonth": "07",
"wpPostCount": 1,
"wpPostIds": [
55516
],
"migratedAt": "2025-09-18T14:32:57.285Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 26874
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/2ViKp8h7U5zWhKN8I4EVnC/c8e2974a10273d777f5a6134831cf207/over-legislation-of-the-labour-market-will-only-harm-employees-768x512.jpg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Herroepte wetgewing uit 1950 gebruik om werknemers volgens ras te klassifiseer
Die onwettige instruksie is 'n onthulling dat die staat oor geen gesag beskik om werknemers volgens ras te klassifiseer nie
Sakeliga en NEASA kan bevestig dat Suid-Afrika se Departement van Indiensneming en Arbeid aan werkgewers opdrag gee om die herroepte Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950 toe te pas om hul werknemers volgens ras te klassifiseer.
Die onwettige instruksie, wat deur die Departement in 'n brief aan NEASA op 5 Desember 2025 gelewer is, is 'n deurslaggewende onthulling dat die staat oor geen wetgewende gesag beskik om werknemers volgens ras te klassifiseer nie, en van voorneme is om die las van sy rasseklassifikasiebeleide op besighede te plaas, eerder as om self die verantwoordelikheid en gepaardgaande regs- en politieke risiko's te aanvaar.
Die Wet op Bevolkingsregistrasie, voordat dit in 1991 deur die destydse Nasionale Party-regering herroep is, het 'n staatsgedrewe rasseklassifikasiestelsel in Suid-Afrika gevestig. Die stelsel het voorsiening gemaak vir definisies van ras en van staatsamptenare vereis om elke persoon in Suid-Afrika dienooreenkomstig te klassifiseer, onderhewig aan die reg tot appèl na die staat se rasseklassifikasierade.
Terwyl die staat in 1950, onder die Wet op Bevolkingsregistrasie, sélf verantwoordelikheid vir rasseklassifikasie aanvaar het, poog die ANC-geleide regering 75 jaar later om staatsverpligte rasseklassifikasie te laat herleef, maar hierdie keer deur werkgewers, eerder as staatsamptenare, aan te sê om dit uit te voer en die gepaardgaande plaaslike en internasionale regsrisiko's te dra.
Konteks van die instruksie
Die instruksie vorm deel van die regering se poging om die Wysigingswet op Gelyke Indiensneming van 2023 af te dwing.
Die Wet verplig werkgewers in Suid-Afrika sedert September 2025 om te voldoen aan streng indiensnemingskwotas – wat in die wetgewing "sektorale numeriese teikens" genoem word – gebaseer op ras, geslag en gestremdheid. Die kwotas vereis onder meer van werkgewers om uiteindelik die persentasie van hul wit manlike werknemers tot so min as 4% te beperk. Vir meer inligting oor die kwotas, klik hier.
Sakeliga en NEASA daag tans dié wetgewing en die gepaardgaande regulasies uit, met gelyktydige dringende litigasie in die Hoogste Hof van Appèl en die Konstitusionele Hof.
In nastrewing van die staat se doelwit om alle indiensneming aan sy demografiese kwotas te laat voldoen, stel die Wet op Gelyke Indiensneming en sy regulasies dit as 'n wetlike verpligting vir werkgewers om akkurate klassifikasie van die ras, geslag en gestremdheidstatus van hul werknemers te verseker. Hoewel werkgewers inligting wat deur werknemers verskaf word mag gebruik, is werknemers nie wetlik verplig om hul eie ras- en gestremdheidklassifikasies aan te bied nie. Selfs waar werknemers hulself wél klassifiseer, bly werkgewers aanspreeklik vir die akkuraatheid van die inligting wat aan die Departement van Indiensneming en Arbeid gelewer word in die werkgewer se verpligte sogenaamde diensbillikheidsplan.
Wanvoorstelling deur 'n werkgewer van die ras- of gestremdheid-status van sy werknemers, of die nie-bereiking van die indiensnemingskwotas, maak die werkgewer aanspreeklik vir boetes wat wissel van R1,5 miljoen of 2% van omset vir eerste oortreders, tot 'n maksimum van R2,7 miljoen of 10% van omset vir herhaalde oortreders, welke ook al hoër is.
Ten spyte van die ernstige regsaanspreeklikheid, het nóg die Wet op Gelyke Indiensneming nóg enige van sy regulasies wat tot dusver gepubliseer is riglyne aan werkgewers of werknemers gebied oor wat akkurate en onakkurate klassifikasies van ras en gestremdheid behels. Ten einde werkgewers teen die regsrisiko's verbonde aan klassifikasie te beskerm, het NEASA hieroor by die Departement duidelike riglyne aangevra, waarna die Departement se bevestiging nou gevolg het dat die Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950 deel moet vorm van die kriteria en historiese data wat toegepas word in die bepaling van die ras van werknemers.
Dit is Sakeliga en NEASA se standpunt dat werkgewers nie verplig mag word om hul werknemers volgens ras te klassifiseer nie; dat geen wettige meganisme om dit te doen bestaan nie; en dat beide die vereiste om te klassifiseer en om aan die rassekwotas vervat in die Wet op Gelyke Indiensneming te voldoen, onuitvoerbaar, ongrondwetlik en onaanvaarbaar is.
Hulpbronne:
- Brief deur die Departement van Arbeid en Indiensneming wat aan werkgewers opdrag gee om die Wet op Bevolkingsregistrasie van 1950 te gebruik. (5 Desember 2025)
- Brief deur NEASA aan die Departement van Arbeid en Indiensneming waarin leiding oor rasseklassifikasie versoek word. (4 Desember 2025)
- Brief deur die Departement van Arbeid en Indiensneming wat 'n werkgewer inlig dat dit wetlik verplig is om sy werknemers volgens ras te klassifiseer, selfs al weier die werknemers om saam te werk. (25 November 2025)
- 5-minute verduidelikingsvideo van die nuwe rasse-indiensnemingskwotas
