|
Background image

Sakeliga dien Konstitusionele Hof-appèl in oor uitspraak rakende Gelyke Indiensneming

Sakeliga en NEASA het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die Hoogeregshof se gebrekkige uitspraak oor Gelyke Indiensneming.
Sakeliga
Sakeliga en NEASA het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die Hooggeregshof se gebrekkige uitspraak oor Gelyke Indiensneming (EE).

Die gelyktydige aansoeke om verlof tot appèl na die Hoogste Hof van Appèl en die Konstitusionele Hof volg nadat die Pretoriase Hooggeregshof in Augustus geweier het om ’n dringende interdik teen die EE-regulasies en numeriese sektorale teikens toe te staan.

Gesamentlik stel hierdie indiensnemingskwotas vereistes op grond van ras, geslag en gestremdheid, wat lei tot ernstige skade aan geaffekteerde individue, besighede en die ekonomie in die algemeen.

Die appèlle teen die uitspraak berus op talle gronde. Dit sluit onder andere in:

1. Die Hooggeregshof het verkeerdelik bevind dat die aansoek nie ’n grondwetlike aangeleentheid is nie.

Die saak betrek egter etlike grondwetlike bepalings, insluitende vryheid van handel, die omvang van ministeriële bevoegdhede en administratiewe geregtigheid.

2. Die hof het verkeerdelik bevind dat dit nie die mag het om die werking en implementering van die EE-regulasies en -teikens deur die minister te verhoed of op te skort nie.

In ’n growwe mistasting het die regter beslis dat die hof geen mag het om die gevolg van ’n onwettige administratiewe handeling te verhoed of op te skort nie, suiwer omdat “dit reeds gebeur het” – soos die regter dit beskryf het: “die koëel is deur die kerk”. Dié uitspraak is ongegrond, het verreikende gevolge vir administratiewe geregtigheid in Suid-Afrika, en sal ’n gevaarlike presedent stel indien dit nie reggestel word nie.

3. Die applikante het vyf gronde van onregmatigheid van die minister se administratiewe handelinge geopper, terwyl die hof verkeerdelik slegs die eerste drie van die vyf gronde hieronder oorweeg het:

Eerstens, konsepteikens is nie gepubliseer soos deur die EE-wet vereis word nie.

Tweedens, die minister het nie behoorlik met die sektore gekonsulteer nie.

Derdens, die teikens en regulasies diskrimineer onbillik teen vroue, wat as ’n beskermde groep aangewys is.

Vierdens, die teikens neem nie die unieke en besondere omstandighede van elke ekonomiese sektor en/of subsektor voldoende in ag nie.

Laastens, die minister het versuim om ’n omvattende sosio-ekonomiese impakstudie oor die uitwerking van die teikens te bekom en te oorweeg.

Weens die onnoukeurige beoordeling en verkeerdelike oorweging van die bogenoemde gronde, het die Hooggeregshof ’n gebrekkige uitspraak gelewer.

Dit het fouteer deur nie te bevind dat die applikante sterk vooruitsigte op sukses het in die hersiening op enige van die bogenoemde gronde nie.

Die teikens en regulasies het op 1 September 2025 in werking getree. Weens die Hoogeregshof se weiering om die dringende interdik toe te staan, verg hierdie onregmatige teikens nou oorweging deur alle aangewese werkgewers vir hul EE-planne en -verslae.

Waar werknemers of voornemende werknemers in 'n ras-of geslagsgroep val, wat by ’n werkgewer op ’n bepaalde possvlak oorverteenwoordig is, sal dié werknemer as gevolg van die teikens skade ly. Hulle sal nie bevorder word of werk vind indien daardie werkgewer poog om aan die teikens te voldoen nie.

Vanweë die algemeen nadelige uitwerking op aangewese besighede, strek die skade boonop ook na nie-oorverteenwoordigde werknemers, eienaars, kliënte en klante.

In die uitspraak plaas die Hooggeregshof die blaam vir diskriminasie weens die numeriese teikens nie voor die deur van die minister wat dit ingestel en afgedwing het nie, maar voor die deur van werkgewers wat poog om die teikens te bereik of daaraan te voldoen.

Wat hierdie mistasting toon is dat die hof die kern van die saak uit die oog verloor het.

Die nuwe wetgewing en regulasies dwing werkgewers juis om van die minister se verpligte vyfjaar-“doelwitte”gebruik te maak eerder as hul eie numeriese doelwitte. Desnieteenstaande het die hof steeds bevind “[d]it sal die stel van numeriese doelwitte wees, wat die statutêre funksie van ’n werkgewer is, wat tot ’n nadeel van vroue kan lei.”

Die minister het 10 dae om op die Konstitusionele Hof-aansoek te antwoord. ’n Datum vir die aanhoor van die aansoek om verlof tot appèl in die Hooggeregshof is nog nie vasgestel nie.

-Einde-

Background image

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.