|
'n Grafika van Cyril Ramaphosa se gesig, en 'n hospitaal as agtergrond

Sakeliga dien NGV-hofaansoek in om die staat se vertragingstaktiek teen te staan

Sakeliga se aansoek verseker dat indien hofsake opgeskort word, die inwerkingstelling van die NGV eweneens opgeskort moet word.

Sakeliga Staff
22 Oktober 2025

Sakeliga het 'n voorwaardelike teenaansoek by die Hooggeregshof ingedien in antwoord op die minister van gesondheid se poging om grondwetlike uitdagings teen die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV-wet) op te skort. Hierin vra ons die hof dat indien regsuitdagings teen die NGV opgeskort word, die staat se implementering van die NGV ook opgeskort moet word.

Die minister poog om ses grondwetlike sake teen die NGV-wet op te skort, met die bewering dat openbare hulpbronne gespaar moet word terwyl bepaald prosedurele sake eers aangehoor word.

Sakeliga se reaksie staan hierdie poging om verrigtinge op te skort teen, maar vra die hof ook om implementering van die NGV te verbied sou die opskorting inderdaad toegestaan word.

Die opskortingsaansoek deur die minister, en ondersteun deur die president, sou geregtelike ondersoek van die NGV-wet onbepaald opskort, terwyl implementering van die NGV voortgaan.

Hierdie taktiek stel 'n misbruik van proses daar deur die staat en is ook 'n skending van grondwetlike aanspreeklikheid. Dit sou die regering se diep gebrekkige NGV-wet teen grondwetlike hersiening beskut, terwyl dit voortdurende skade aan die publiek, belastingbetalers, gesondheidsdienste en die ekonomie veroorsaak.

Sakeliga het sy omvattende grondwetlike hofsaak teen die NGV-wet op 27 Augustus 2025 ingedien, in versterking van en aanvulling tot verskeie ander sake deur organisasies wat die Wet teenstaan. In die lig van wydverspreide weerstand, wend die regering hom nou tot prosedurele taktieke soos om verrigtinge op te skort ten einde die beslegting van die grondwetlike geskille onbepaald op te skort.

Sakeliga staan hierdie taktieke in die hof teen, met 'n tweeledige benadering:

  1. Teenkanting van die Minister se opskortingsaansoek, en
  2. Die indiening van 'n voorwaardelike teenaansoek vir 'n interdik om implementering van die NGV te stop, sou die hof wel 'n opskorting van die verdere verloop van grondwetlike sake toestaan.

Sakeliga se teenkanting en voorwaardelike teenaansoek berus op verskeie gronde:

  • Die opskorting waarvoor die regering vra ondermyn konstitusionalisme en die oppergesag van die reg:

'n Onbepaalde opskorting sou wesenlike grondwetlike geskille oor die wet neutraliseer sonder dat dit eers aangehoor word, en die uitvoerende gesag toelaat om ongehinderd voort te gaan met die implementering van diep gebrekkige wetgewing, terwyl die betrokke partye se vermoë tot toegang van die howe aan bande gelê word.

  • Die voorgestelde opskorting is nadelig en onnodig:

Die opskorting bly in plek tot afhandeling van prosedurele aangeleenthede wat deur ander aansoekers geopper is. Die prosesregsake teen die wet is belangrik, maar Sakeliga se saak op substantiewe gronde bestaan in eie reg en hoef nie onderhewig gestel te word aan ander proses-gebaseerde sake nie.

  • Die regering gebruik vertragingstaktieke:

Die minister en president gebruik vertragingstaktieke om geregtelike hersiening uit te stel terwyl implementering voortgaan. Dit is ’n misbruik van sowel uitvoerende mag as die regstelsel, wat onverstandigeoptrede sou toelaat om voort te gaan en verdere skade te berokken. Die opskorting dien geen ander doel nie as om die regering meer tyd te gee om ’n onbekostigbare en skadelike skema te implementeer en te verskans.

Voorwaardelike interdik om skade te verhoed

Die voorwaardelike regshulp waarvoor Sakeliga vra is nodig om voortdurende grondwetlike en ekonomiese skade af te weer, en om die vermorsing van openbare fondse aan 'n kennelik onbekostigbare skema te verhoed.

Om toe te laat dat implementering voortgaan terwyl regsuitdagings onbepaald uitgestel word, hou die risiko in dat onnodige skade aan gesondheidsdienste veroorsaak word, wat moontlik later ongedaan gemaak moet word indien die grondwetlike uitdagings teen die NGV sou slaag. Ironies genoeg bied die regering se eie verklaarde bekommernis oor die besparing van openbare hulpbronne steun aan Sakeliga se teenaansoek vir voorwaardelike tussentydse regshulp.

Die interdik-teenaansoek berus op die hof se wye diskresie ingevolge artikel 172(1)(b) van die Grondwet om regverdige en billike regshulp in grondwetlike sake toe te staan.

Sakeliga se breër saak teen die NGV-wet bly een van verskeie groot hofsake wat deur die burgerlike samelewing, sake-organisasies en belanghebbendes in gesondheidsorg gebring is om die staat te verhoed om 'n onverskillige en irrasionele beleid teen enorme fiskale koste te probeer implementeer.

Dit is nie die grondwetlike sake teen die NGV wat gestaak moet word nie, maar wel die implementering van die NGV.

Hulpbronne

  • Klik hier vir die antwoordende verklaring wat in die Gauteng-afdeling van die Hooggeregshof ingedien is.
  • Kyk ons 5-minute video oor die NGV hier.
  • Lees ons artikel "Teenstand teen die NGV en beurtgesondheid" hier.
home-cta-image

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.