Sakeliga wil wetgewing oor eiendomsoordragte in Konstitusionele Hof verdedig
Sakeliga het by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen om die skriftelike vereiste vir eiendomsoordragte te verdedig, na aanleiding van ‘n foutiewe bevinding dat mondelinge ooreenkomste vir die oordrag van residensiële eiendom “bindend en afdwingbaar” is.
Sakeliga het by die Konstitusionele Hof aansoek gedoen om as amicus curiae (vriend van die hof) toegelaat te word in 'n saak wat die sekerheid van eiendomsoordragte en eiendomsreg in Suid-Afrika kan bepaal.
Ons wil vertoë rig teen die bekragtiging van 'n foutiewe bevinding van die Hooggeregshof in Pretoria, waarvolgens mondelinge ooreenkomste vir die oordrag van residensiële eiendom ook "bindend en afdwingbaar" sal wees. Indien dié bevel bekragtig word, kan dit die sekerheid van eiendomsreg in Suid-Afrika ernstig ondermyn deur weg te doen met die gevestigde vereiste dat ooreenkomste vir die oordrag van eiendom skriftelik moet wees.
Die Hooggeregshof het in sy bevel artikel 2(1) van die Wet op Vervreemding van Grond (Wet 68 van 1981) ongrondwetlik verklaar en woorde in die Wet ingelees wat mondelinge ooreenkomste vir die oordrag van residensiële eiendom met skriftelike ooreenkomste gelykstel. Aangesien hofbevele wat bepalings van parlementêre wetgewing ongeldig verklaar eers deur die Konstitusionele Hof bevestig moet word, is die saak na dié hof verwys.
Die Hooggeregshof het die bevel op ‘n ongeopponeerde basis toegestaan. Die minister van handel, nywerheid en mededinging het verkies om by die hof se beslissing te berus eerder as om die aansoek te opponeer. Aangesien geen party artikel 2(1) verdedig nie, wil Sakeliga die Konstitusionele Hof bystaan met vertoë ter ondersteuning van die skriftelike vereiste en ten gunste van regsekerheid en die beskerming van eiendomsreg.
Ons standpunt is dat artikel 2(1) grondwetlik en geregverdig is. Die vereiste van skriftelike ooreenkomste bevorder regsekerheid, verseker behoorlike openbare kennisgewing, help om bedrog te voorkom, en bied groter sekerheid oor eiendomsreg. Hierdie waarborge is noodsaaklik om die betroubaarheid van die akteregister te handhaaf. Sonder dié sekerheid sal eienaars en kopers met bykomende administratiewe en finansiële laste gekonfronteer word, onder meer die behoefte aan titelversekering. Geskille oor eiendomsreg sal ook tot meer litigasie lei.
Hulpbronne
Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker
Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.
