|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/08/Sakeliga-Logo.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2024/08/Sakeliga-Logo.jpg",
  "wpYear": "2024",
  "wpMonth": "08",
  "wpPostCount": 4,
  "wpPostIds": [
    76180,
    75064,
    76207,
    75014
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:06.798Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 48630
}
[End WordPress Migration Data]

Die stand en koers van rasgebaseerde regeringsbeleid

17 Junie 2025

Die Suid-Afrikaanse regering is besig met ’n ongekende aanslag op produktiewe ondernemings.

In twee toesprake slegs dae uitmekaar – een in die Parlement, die ander by die Black Business Council-beraad – het president Cyril Ramaphosa onderneem om transformatisme te verskerp en Swart Ekonomiese Bemagtiging en ander rasgebaseerde ekonomiese sanksies na elke bedryf uit te brei.

Die president het homself, sy party, en sy koalisieregering tot hierdie pad verbind, ten spyte van maande se intensiewe internasionale en plaaslike teenkanting, asook jare se ekonomiese en fiskale mislukking.

By dieselfde geleentheid het Ramaphosa se minister van landbou en leier van die tweede grootste politieke party, John Steenhuisen, die Black Business Council se BEE-doelwitte sonder die minste kritiek onderskryf.

Soos u weet, het die regering se transformasie-agenda reeds rampspoedige ekonomiese en sosiale gevolge gehad. Om dit uit te brei sal ’n katastrofe wees waarvan dit uiters moeilik sal wees om te herstel, beide vir die wit gemeenskappe wat uitdruklik deur die transformatistiese projek geteiken word en vir swart gemeenskappe wat uiteindelik ly onder die kleurblinde domino-effek van politieke beheer oor ondernemings.

Sakeliga en sy vennote in die sakewêreld staar ’n dringende en eksistensiële besluit in die gesig:

Óf ons word die sterkste georganiseerde liga van sakelui wat hierdie land nog ooit gesien het – en verhoed dat transformatisme die land ruïneer – óf ons berus daarby om geld te maak op pad ondertoe, terwyl ons kinders emigreer, ons gemeenskappe opbreek, en die samelewing rondom ons verval en verarm.


Die prys van transformatisme

Tydens sy toespraak in die Parlement het president Ramaphosa gesê dat hy verstom staan oor die voorstelle dat BEE ekonomies skadelik is en afgeskaal moet word.

Dit kan slegs verstommend wees vir ’n leier wat óf opsetlik weier om die berg getuienis wat tot die teendeel opgestapel is te erken, óf wat na langdurige beskutting teen die harde werklikhede van besigheid geen begrip van kapitaalrentmeesterskap meer het nie. Of albei.

Studies toon jare lank al wat aandeelhouers en bestuurders reeds weet: dat die alewige subsidiëring van spesiale klasse aandeelhouers die koste van ekwiteit aansienlik verhoog, risikolopende beleggings verjaag, en oormatige afhanklikheid van skuldbefondsing aanmoedig.

Die sektore wat die swaarste deur BEE-eienaarskapvereistes en rasgebaseerde aanstelling en verkryging gereguleer word het sektorale BBP-dalings ervaar wat verder strek as die definisie van resessie of depressie, na ’n kategorie wat eintlik as ineenstorting beskryf kan word. Reële mynbou-BBP, wat naby aan bruto wins in die bedryf is, is byna 20% benede die hoogtepunte wat gedurende die laaste 20 jaar bereik is, nutsdienste is 22% af (nieteenstaande enorme belastingbetaler-reddingspakkette vir Eskom), en konstruksie het met ’n skokkende 37% ineengestort.

Sakesektore wat moeiliker was om so omvattend met transformatistiese beleid vas te pen, soos landbou, logistiek, tegnologie, en die diverse dienstesektore, het aansienlik beter gevaar.

Dit behoort geen verrassing te wees dat dit presies op hierdie steeds relatief produktiewe areas is waarop die staat nou sy transformatisme rig nie. Om aan hierdie sektore te doen wat reeds aan die industriële basis gedoen is, sal niks minder as katastrofies wees nie.

My kollega, Sakeliga-direkteur en hoofekonoom, Russell Lamberti, skat dat Suid-Afrika se BEE-era ekonomiese onderprestasie (gemeet aan eweknieë in middelinkomste opkomende markte) tans ongeveer R2 triljoen in verlore BBP-waarde per jaar kos – en toeneem.

En dit was onder die ligter weergawe van BEE.


Wat verklaar die President se verbintenis tot rampspoedige transformasie?

Ten spyte van die ekonomiese en maatskaplike skade van beleide soos BEE en Gelyke Indiensneming, weier voorstanders om van koers te verander.

Waarom?

Ek glo dit is ’n kombinasie van drie faktore.

Eerstens, ’n opregte en legitieme begeerte om florerende swart gemeenskappe te bevorder, in harmonie met wit en ander minderheidsgemeenskappe, is verwring deur ’n strewe na swart oorheersing.

President Ramaphosa verpak hierdie strewe as ’n verbintenis tot gelykheid, met die argument dat “die eienaarskap, die bestuur, en die beheer” van die ekonomie “die demografie van ons land moet weerspieël.” In praktyk is dit egter die politieke program om ’n bepaalde voorkeur-politieke en etniese hiërargie te vestig, nie net in die ekonomie oor die algemeen nie, maar binne-in elke maatskappy en organisasie.

Tweedens, ekonomiese ongeletterdheid lei tot misplaaste oortuigings dat armoede veroorsaak word deur ’n gebrek aan toegang tot “produksiemiddele” (“means of production”).

Hierdie foutiewe ekonomiese denke verhoed dat die regering verstaan dat sy beleide van gedwonge eienaarskapsoordragte en gedwonge aanstellings armoede onder swart mense verhoog. Die gebrek aan begrip verhoed dit wat andersins remmend sou inwerk op transformatistiese ambisies. ’n Negatiewe terugvoerlus ontstaan, waarin die regering opreg glo dat die oplossing vir meer swart armoede meer van die transformatisme vereis wat armoede verseker.

Derdens, ’n uitgebreide patronaatskapsnetwerk van mense wat politieke paaie na rykdom soek het rondom die staat ontwikkel.

Hierdie netwerk is nie net bereid om die algemene publiek die prys vir BEE te laat betaal nie, maar selfs ook swart gemeenskappe, en dring daarom aan op meer BEE. Dié groep beskou BEE as noodsaaklik vir sy ekonomiese belange en is daarom ’n formidabele drukgroep en invloed op die regering.


Waar die uitbreiding reeds sigbaar is

Die huidige fase van die regering se transformasie-agenda is om BEE en Gelyke Indiensneming in voorvereistes vir deelname aan ekonomiese aktiwiteit te omskep, in wat neerkom op geteikende binnelandse ekonomiese sanksies teen wit mense en ondernemings in wit besit.

Huidige of hangende maatreëls sluit in:

Finansiële dienste-lisensies – versekeraars, batebestuurders, en finansiële adviseurs loop die risiko om gedwing te word om vasgestelde BEE-tellings te moet handhaaf om lisensies te behou en bekom.

Mediese & Farmaseutiese lisensies – afdwinging van BEE vir permitte vir medisyne en toerusting.

Eiendom – ontwikkelaars en eiendomsagente sou bedryfsertifikate verloor sonder BEE-goedkeuring.

Landbou-besighede – invoer- en uitvoerpermitte vereis toenemend BEE-nakoming.

R100bn “Transformasiefonds” – voorstel vir ’n sentrale fonds wat maatskappy se “ESG”-besteding vir rasgebaseerde herverspreiding inpalm.

Lugvaartlisensies – lisensiëringsrade werk daaraan om BEE-status aan bedryfslisensies te koppel.

Mededingingsgoedkeurings – samesmeltingstoestemming hang af van rasse-eienaarskapteikens en betalings.

Gelyke Indiensneming-kwotas – vanaf September 2025 moet firmas met 50+ personeel aan demografiese plafonne voldoen wat wit manlike werknemers op 4% kan beperk. By nie-nakoming staar firmas verlammende boetes en vervolging in die gesig.

Mynbouhandves – konsepreëls verhoog reedslastige BEE-drempels selfs terwyl die sektor agteruitgaan.

Afdwingingsmagte – wysigings beoog om die BEE-kommissie in ’n tribunaal met breë ondersoekvermoë en groter sanksiemagte te omskep.

Sakeliga het reeds ván hierdie inisiatiewe suksesvol deur regsdreigemente teruggedruk (eiendom, lugvaart, transaksiegoedkeurings), burokrate gedwing om hul gebrek aan gesag in ’n relevante bedryf te erken (finansiële dienste, lugvaart), en aktiewe litigasie teen regulasies en wetgewing van stapel gestuur (eiendom, lugvaart).


Sakeliga se strategie teen hierdie groeiende bedreigings

1. Ongekende litigasie teen die staat

Ons onderneem tans ’n groot uitbreiding van strategiese openbare beleidslitigasie teen die mees gevaarlike regulatoriese bedreigings vir besigheid en die ekonomie.

Ons is op koers om ons aktiewe hofsake hierdie jaar te verdubbel, van 5 in 2024 tot 10 teen die einde van 2025.

2. Ongekende druk vir hervorming

Deur ons binnelandse sake- en bedryfskamernetwerk en ons nuut-opgerigte Internasionale Handelskantoor, beoog Sakeliga om plaaslike en internasionale sakedruk teen vernietigende rasgebaseerde politieke inmenging by die ekonomie te koördineer en op te skaal.

Ons versterk belangrike bande met sakenetwerke wat hulself ook vir ’n gunstige sakeomgewing beywer.

3. Alternatiewe sake-etiek om opposisie te versterk

Ons ontwikkel en populariseer alternatiewe sake-etiek tot skadelike transformatisme.

Dit behels die verstaan van hoekom en hoe rasgebaseerde staatsinmenging die gemeenskaplike goeie benadeel, die lê van stewige etiese en intellektuele grondslae vir Maksimum Aangewese Nie-samewerking (MAN). Ons vergroot ons reikwydte in die bevordering van ’n gesonde alternatiewe etiek deur regulatoriese kennis te versprei, die skadelike werking aan ’n breë gehoor op vele platforms te verduidelik, en legitieme weë vir andersdenkendheid en teenstand te verskaf.

Hierdie strategie, ontwikkel met u ondersteuning, het bewys dat dit resultate kan lewer.

Ons 90% sukseskoers in die hof het oor meer as ’n dekade deurslaggewende verligting gebring oor BEE-verkryging, munisipale infrastruktuur-wanbestuur, inperkings, eiendomsregte, en grondbesettings. Selfs om net met litigasie te dreig was in vele gevalle al genoeg om werklike verligting te bewerkstellig, soos toe ons Ebrahim Patel gedwing het om sy planne vir CIPC-sakelisensiëringsvereistes terug te trek of toe ons die Regulatoriese Owerheid vir Eiendomspraktisyns (PPRA) laat terugkrabbel het van sy BEE-vereistes vir getrouheidsfondse – alles sonder om ’n hofsaak te voltooi.

Ons internasionale handelsbetrekkinge en plaaslike kamernetwerke lei tot toenemende opposisie en druk vir hervorming.

Ons bevordering van ’n alternatiewe sake-etiek versterk plaaslike en internasionale ondernemings met die woordeskat en strategiese raamwerk om skadelike staatsvereistes waar enigsins moontlik eenkant te skuif ten gunste van waardetoevoegende besluite.

Sakeliga is vandag die beste voertuig vir ondernemings wat impak soek teen die skade van BEE en ander transformatistiese beleide. Verantwoordelike rykdomskeppers met ’n visie wat verder strek as goeie besigheid in ’n rampspoedige omgewing kan ons help om hierdie impak op te skaal.

Hoe u kan help

  1. Skaal befondsing op. Sakeliga het in onlangse jare uitstekende befondsingsgroei ervaar en baie van u het u bydraes ruimhartig verhoog ooreenkomstig u toenemende vertroue in ons werk. Waar finansieel haalbaar, maak u verhoogde befondsing om hierdie groeiende bedreigings te ewenaar ’n werklike verskil tot die sukses van die Sakeliga-missie.
  2. Stel nuwe bondgenote bekend. Ek wil u sterk aanmoedig om hierdie brief en ’n onderskrywing van Sakeliga met kollegas en vriende te deel. Uiteindelik is die groei, van hierdie waagmoedige liga van ons, onder diegene wat ’n voorspoedige toekoms vir al ons gemeenskappe in die plek wat ons liefhet wil verseker, die enigste manier waarop hierdie missie werklik sal opskaal.

Dankie vir alles wat u tot dusver gedoen het. U voortgesette ondersteuning verkwik en inspireer die Sakeliga-span om te wen.

En wen moet ons.

Met beste wense,

Piet le Roux

Uitvoerende Hoof | Sakeliga