|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/07/Cyril-Ramaphosa.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2024/07/Cyril-Ramaphosa.jpg",
  "wpYear": "2024",
  "wpMonth": "07",
  "wpPostCount": 2,
  "wpPostIds": [
    74814,
    74819
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T14:05:42.991Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 377367
}
[End WordPress Migration Data]

Drie nuwe wetsbedreigings vir die ekonomie nou deur president onderteken 

26 Julie 2024
  • President Cyril Ramaphosa se ondertekening op 23 Julie 2024 van drie nuwe wette hou ernstige bedreigings vir die ekonomiese omgewing in.
  • Sodra die veelpartyregering dit begin implementeer, sal die Wet op Staatsverkryging, Wysigingswet op Nasionale Kleinsake, en die Wet op Klimaatsverandering die koste van besigheid in Suid-Afrika verhoog terwyl dit staatsverval versnel.
  • Elkeen is potensieel skadelik op sy eie en almal dra by tot ‘n onheilspellende reeks wetsbedreigings, waarvan die onlangs ondertekende NHI-wet, regstellende aksie-regulasies, en derde-golf BEE-bepalings deel is. Besighede sal wys wees om oorweging te skenk aan die gevolge van moontlike implementering op hul bedrywighede sowel as op implikasies vir die stabiliteit van die veelpartyregering.

Hieronder verskaf ons ‘n kort oorsig van die drie wette se belangrikste kenmerke.

1. Die Wet op Staatsverkryging

Die Wet op Staatsverkryging is ‘n resep vir versnelde staatsverval. Dit poog om:

  • alle staatsentiteite te dwing om buitensporige premies vir verkryging te betaal, gebaseer op ‘n tenderaar se ras, nasionaliteit, en ander kriteria, in plaas daarvan om waarde vir geld vir die publiek eerste te stel; en
  • verkrygingsbeleid onder die nasionale regering te sentraliseer.

Die nuwe wet sal verkrygingskoste opstoot en dienslewering en staatsadministrasie ondermyn. Sy komplekse reeks voorkeurverkrygingsvoorskrifte, insluitend sogenaamde “set-asides”, voorafdiskwalifikasie, subkontrakteringsvoorwaardes, vereistes vir plaaslike inhoud, en meer, sal die poel van beskikbare verskaffers drasties verminder en lei tot stygende koste en laer gehalte. Die kompleksiteit vorm ook die ideale dekmantel om selfbelang, korrupsie, en politieke konneksies in staatsverkryging te verdoesel, ten koste van verkryging in die openbare belang. Die geleenthede vir wanbesteding is enorm.

Die wet is bedoel om die ou Wet op die Beleidsraamwerk oor Voorkeurverkryging te vervang, wat sy tekortkominge gehad het, maar tog die mate waarin die sentrale regering nie-waarde-toevoegende voorkeurverkryging kon voorskryf beperk het. Ten dele stel die nuwe wet ook ‘n poging daar om Sakeliga se Grondwethofuitspraak oor staatsverkryging in 2022 teen te werk, waarin ons die keuse beskerm het vir munisipaliteite en ander staatsentiteite om hul eie waarde-vir-geld verkrygingsbeleide te bepaal. Die wet poog nou om te bereik wat die minister destyds nie wettiglik deur regulasies kon regkry nie, maar tog bly dit ongrondwetlik om soortgelyke redes: Nie die Parlement of ‘n minister het die mag om ‘n staatsorgaan aan ’n spesifieke voorkeurverkrygingsbeleid te bind nie. Artikel 217 van die Grondwet ken hierdie diskresie toe aan staatsorgane sélf, maar selfs dan altyd onderhewig aan die noodsaak van waarde vir geld.

Sakeliga sal die nuwe wet verder ondersoek om gepaste stappe daarteen te bepaal, asook om normale, waarde-vir-geld aankope met belastingbetalersgeld te beskerm.

2. Wysigingswet op Nasionale Klein Ondernemings

Hierdie wet beweer dat dit daar is om klein ondernemings te ondersteun, maar is eerder ‘n aansienlike bedreiging vir hulle en vir besigheid in die algemeen. Dit poog om alle private kontrakte tussen besighede – waar een van die partye ‘n “klein onderneming” is – aan regeringsinspraak te onderwerp, in stryd met gevestigde beginsels van kontraktereg en handelsvryheid.

’n Sentrale element is die instelling van ‘n Ombudsdiens vir klein ondernemings, met wye magte om ondersoek in te stel na klagtes en arbitrêr gedefinieerde “onregverdige” handelspraktyke, sake na die minister te verwys (vir ‘n verklaring), en administratiewe boetes op te lê. Die Ombudsdiens sal deel vorm van ‘n groeiende netwerk van agentskappe verbonde aan die Departement van Handel, Nywerheid, en Mededinging wat handel reeds ernstig knel. Die wet ken oënskynlik wye magte aan die minister toe om by kontrakte en transaksies met klein ondernemings in te meng.

Die uitwerking van die Wet, indien noukeurig geïmplementeer, sou wees om besigheid met klein ondernemings baie duurder en minder aantreklik te maak vir medium, groot, of ander klein ondernemings, wat die groeivooruitsigte van klein en groot ondernemings deur die bank benadeel.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

  • Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
  • Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
  • Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet

Ons Missie & Impak

3. Die Wet op Klimaatsverandering

Hierdie ingewikkelde wet voorsien ‘n berg van nuwe staatsbeplanning, monitering, en verslagdoeningsburokrasieë. Sy sleutelmeganisme is emissiebeperkings per besigheid, wat op sektor- en sub-sektorvlak bepaal sal word, met wye diskresie vir die minister om produksie te reguleer, boetes op te lê, en meer.

Die emissiebeperkings self sal bepaal word deur ‘n ondeursigtige en komplekse mengsel van internasionale verbintenisse, onnoukeurige emissieskattinge en voorspellings, en ‘n verskeidenheid van politieke en sosio-ekonomiese oorwegings. Aan ondernemings in betrokke sektore sal ‘n limiet genaamd ‘n “koolstofbegroting” toegeken word en hulle sal vereis word om ‘n “kweekhuisgasverminderingsplan” in te dien en na te kom.

Die praktiese impak van die Wet hang grootliks af van spesifieke emissiebeperkings, sektorale dekking, toepassingstrengheid, en vlakke van vrywillige nakoming. Ondernemings loop die risiko om met hoë verslagdoeningskoste en beduidende groeibeperkings opgesaal te word. Beperkings en hoër koste vir steenkoolenergie hou die risiko in dat die land in ‘n ernstige energietekort bly wat ekonomiese groei en indiensneming beperk. Selfs veeboerdery kan in die skyf van emissiebeperkings kom.

Soos met alle kwotastelsels, sal daar in ‘n stadium ‘n tekort aan beskikbare “koolstofbegrotings” vir ‘n sektor ontstaan. Gevolg tot sy logiese eindpunt sal hierdie sektorale emissiebeperkings dan geen ruimte laat vir die toewysing van addisionele “koolstofbegrotings” aan nuwe toetreders nie, met potensieel die perverse gevolg om nuwe besigheidsvorming te verhoed en slegs gevestigde maatskappye in plek te hou. Die kompleksiteit van die hele raamwerk leen homself ook tot korrupsie, verdraaide aansporings, en aansienlike burokratiese koste.

Ons sal in toekomstige ontledings meer te sê hê oor die Wet op Klimaatsverandering. Vir nou waarsku ons dat die wet se benadering wesenlike en direkte ekonomiese en sosiale skade verruil vir onsekere en hoogs betwiste voordele. Belemmerde ekonomiese ontwikkeling dra by tot tasbare omgewingsrisiko’s soos ontbossing en waterbesoedeling, en sosiale risiko’s soos misdaad en politieke onrus – almal deeglik aanwesig in Suid-Afrika. Ons beskou die bot, gesentraliseerde ekonomiese beplanning voorgestel in die wet as ontoereikend vir ‘n kwessie van hoë wetenskaplike kompleksiteit, met uiteenlopende subjektiewe beoordelings van risiko en risikobestuur, en met ‘n menigte ingewikkelde en gewigtige sosiale afwegings.

Weerstand teen ‘n Sentraalbeplande Ekonomie

Hierdie drie wette en ander onlangse beleidsbedreigings is sterk herinnerings dat die staat se doel bly om ‘n sê te hê oor elke aspek van die ekonomie en om alle ekonomiese aktiwiteit direk of deur regulering te beheer. Dit is ‘n beproefde resep vir stagnasie, agteruitgang, en maatskaplike verval. Hierdie wetsneigings dui ook die waarskynlikheid van volgehoue staatsverval op sommige sleutelgebiede.

Ons oorweeg ons opsies teen verskeie onlangse wetlike bedreigings. Sakeliga bly verbind tot die ontwikkeling van omvattende litigasie in die openbare belang – met die beste moontlike benutting van die regsprekende deel van die staat vir hervorming – en die bou van alternatiewe tot mislukkende staats-, munisipale, veiligheids- en diplomatieke strukture waar nodig. Ons sal ook voortgaan om maksimum haalbare nie-nakoming van skadelike regulasies aan te moedig in die belang van florerende besighede en die gemeenskappe wat hulle bedien.

Maak ‘n kragtige en blywende ekonomiese impak.

Ondersteun Ons Missie