
Dringende hofaansoek uitgereik om staatsinmenging met BKS-entstowwe te beëindig
Die aansoek volg op die minister van landbou se versuim om sy verbod op privaatsektor-verkryging en -toediening van entstowwe te staaf.
Sakeliga, SAAI, en Vrystaat Landbou het 'n dringende hofaansoek uitgereik om die staat se skadelike en onwettige belemmering van die privaatsektor se verkryging en toediening van bek-en-klouseer (BKS) entstowwe te stop.
Die aansoek volg op die minister van landbou, John Steenhuisen, se versuim om sy verbod op privaatsektor-verkryging en -toediening van entstowwe te staaf, en sy departement se inmenging wat die invoer van entstowwe deur die privaatsektor belemmer en vertraag het.
Die minister en sy kollegas se aandrang op staatsbeheer oor alle aspekte van BKS-inenting – in teenstelling met die gebruiklike praktyk waarvolgens entstowwe vir ander veesiektes privaat verkry en toegedien word – het wydverspreide nood en beduidende produksieverliese veroorsaak.
Die partye se aansoek, wat op ‘n dringende basis gebring is, moes te kampe hê met uitgebreide vertragings, verhinderings en struikelblokke wat voortspruit uit die minister se optrede en versuime sedert ons aanvanklike regsaanmaning van 27 Januarie 2026. Dit sluit onder meer die volgende in:
Die Minister se valse stelling tydens 'n televisie-onderhoud – in reaksie op ons regsaanmaning – dat hy reeds skriftelike redes vir sy beleid verskaf het;
Die Minister se foutiewe bewerings dat die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) vereis dat die staat die entstof moet hanteer en versprei; en
Die Minister en/of sy Departement se inmenging in kontrakte tussen private entstofvervaardigers en -invoerders, terwyl hy dit in die openbaar ontken.
Die staat se volgehoue aandrang om as sentrale punt vir alle entstofverkryging, -verspreiding en -toediening op te tree, is irrasioneel, skadelik en onredelik, gegewe die vermoë en bereidwilligheid van boere en verwante landboubedrywe om vee te beskerm en produksieverliese te beperk deur middel van privaatgefinansierde en -toegepaste maatreëls.
Ons regstrategie behels twee fases:
’n Aansoek om ’n interdik wat die staat verbied om private persone te verhinder om geregistreerde of gemagtigde BKS-entstowwe aan vee toe te dien. Dit sluit ook ’n interdik in wat die staat verbied om in te meng in die verhoudings tussen diegene wat die entstof wettig invoer en hul verskaffers.
’n Hersieningsaansoek wat binne twintig dae ingestel sal word. Hierdie aansoek sal onder meer verklarende regshulp versoek wat bevestig dat geen regsbelemmering bestaan wat eienaars of bestuurders van vee verhinder om die entstof toe te dien nie — en sou enige sodanige belemmering bestaan of geskep word, dat dit hersien en tersyde gestel word.
Sakeliga en ons vennote volg hierdie tweefase-benadering om die mees dringende regshulp so spoedig moontlik te verkry – naamlik die vryheid vir boere, besighede en veeartse om goedgekeurde entstowwe te bekom en toe te dien.
In teenstelling met minister Steenhuisen se bewerings ná ons aanvanklike regsaanmaning, onthef hierdie regstappe deur Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou die departement geensins van enige van sy verpligtinge met betrekking tot BKS nie. Dit verhinder hom ook nie om daardie verpligtinge na te kom nie.
Die partye beoog bloot om die staat se belemmering van aanvullende privaatsektor-maatreëls op te hef – maatreëls wat andersins reeds op groot skaal en sonder enige koste vir die staat ontplooi kon word.
