|
Background image

Hofsaak eis dat president en kabinet nou sélf Ditsobotla munisipaliteit moet regruk

  • Sakeliga vra die hof om te beveel dat president Cyril Ramaphosa en sy kabinet direk verantwoordelikheid moet aanvaar vir die regruk van die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit.
  • Krag en water moet binne 30 dae herstel word en die ingryping mag nie stop totdat ook die res van die herstelplan suksesvol uitgevoer is nie.
  • Die hofsaak help om die grondslag te lê vir stabilisasie en alternatiewe oplossings teen munisipale verval op die platteland.

Die hof moet die president en kabinet beveel om sélf die ineengestorte Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit reg te ruk.

Só vra Sakeliga in die jongste fase van ons voortgesette hofsaak oor munisipale verval.

Die jongste aansoek word op ’n dringende basis gebring oor die eskalerende staatsverval in Lichtenburg, Coligny, Bhoikutso, Blydeville en omstreke.

Die aansoek vorm deel van ’n reeks hofsake deur Sakeliga en ons plaaslike vennote oor etlike jare en spruit voort uit ’n hofbevel in Oktober 2023, toe die hof provinsiale ingryping by Ditsobotla gelas het.

Ingevolge artikel 139(5) van die Grondwet is provinsiale ingryping die tweedehoogste vorm van staatsingryping by munisipale verval. Omrede die provinsiale owerheid egter klaaglik met Ditsobotla versuim en misluk het, vra Sakeliga die hof om die hoogste vorm van staatsingryping af te dwing. Dit is, om die president en kabinet te beveel om sélf vir die administratiewe en finansiele herstel van die munisipaliteit verantwoordelikheid te aanvaar. Ingevolge artikel 139(7) is dit iets wat die president en kabinet eintlik lankal reeds uit hul eie moes doen, maar grof versuim het.

Die aansoek

In ons aansoek vra Sakeliga die hof dus onder meer:

  1. Om te verklaar dat die president (as hoof van die uitvoerende gesag), die kabinet in geheel, en sekere kabinetslede individueel:

    a. Ongrondwetlik en onregmatig optree deur nie by die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit in te gryp nie.

  2. Om te beveel dat die president en sy kabinet:

    a. Al die verantwoordelikhede van ingryping by die provinsiale regering oorneem.

    b. Self die munisipale herstelplan wat reeds goedgekeur is, afdwing en uitvoer.

    c. Binne 10 dae aan die hof verslag lewer oor hoe om water en kragvoorsiening in Ditsobotla te herstel, die nodige werk binne 30 dae voltooi, en verder in stand hou.

    d. Maandeliks onder eed rapporteer oor die implementering, dienslewering, en finansiële herstel, by wyse van verslag aan die hof en Sakeliga.

    e. Minstens kwartaalliks betekenisvolle samesprekings met Sakeliga en ons verteenwoordigers oor die reddingspoging voer.

    f. Nie mag ophou ingryp nie, totdat die hof tevrede is dat Ditsobotla se finansiële krisis opgelos is en dat Ditsobotla sy verpligtinge nakom.

    g. ’n Afskrif van die hofbevel, sodra dit toegestaan word, aan die Nasionale Vergadering en Nasionale Raad op Provinsies lewer.

Verdere regshulp indien president en kabinet misluk

Die gevraagde bevel sal aan die president en sy ondergeskiktes geleentheid bied om hul versuim reg te stel en hul verantwoordelikhede na te kom. Te oordeel aan groeiende staatsverval landswyd kan daar egter nie hierop gereken word nie.

In ons litigasie tref Sakeliga daarom weereens voorsiening vir die moontlike noodsaak van verdere stappe. Ons versoek die hof – soos in Oktober 2023 – dat, in die geval van verdere versuim deur die president en kabinet, Sakeliga nie ’n nuwe hofsaak hoef te bring nie.

Indien die president en kabinet inderdaad hul pligte verder sou versuim of daarin misluk, sal dit ’n ongekende grondwetlike krisis tot gevolg hê. Die Grondwet bevat in artikel 139, wat handel oor munisipale verval, geen verdere voorsiening as direkte ingryping deur die president en kabinet nie. Tog stop die vernietiging van dorpe en die skending van regte nie bloot omrede hofbevele, wat die Grondwet se meesterplan rakende munisipale verval probeer afdwing teen openbare amptenare wat reeds in hul pligte versuim, nie. Ongelukkig voorsien die Grondwet nie vir ’n situasie dat die nasionale uitvoerende gesag ook, soos die provinsiale gesag voor hulle, nie in staat sou wees om munisipale ineenstorting teen te staan nie.

Sakeliga berei egter voor op die moontlikheid dat alternatiewe regsoplossings, selfs al staan die hof die nodige regshulp kragtens artikel 139(7) van die Grondwet toe, gevind sal moet word. Indien die uitvoerende gesag nogmaals misluk, sal Sakeliga nie skroom om nuwe regshulp kragtens artikel 172 van die Grondwet te vra ten einde orde in die geraakte dorpe te probeer herstel nie. Sulke regspraak sou kon insluit die ontwikkeling en afdwinging van ander vorme van staatsingryping (byvoorbeeld die instelling van ’n spesiale meester, soos elders al deur die howe bepaal), of erkenning en beskerming vir noodgedwonge ingrepe deur sakelui, inwoners en gemeenskappe in hul gemeenskaplike belang.

Belang van voortgesette litigasie

Munisipale verval in Suid-Afrika is omvattend en bedreig die hele land se stabiliteit. Skuld aan Eskom alleen beloop nagenoeg R100 miljard. En volgens die Ouditeur-Generaal kan 30% van munisipaliteite moontlik nie meer lopende sake wees nie – in sommige provinsies meer as 50%.

Indien oplossings teen plattelandse staatsverval – en toenemend selfs stede soos Bloemfontein – nie gevind word nie, sal dit ’n kettingreaksie van destabilisasie ontketen. Wanneer kleiner dorpe ineenstort, migreer baie inwoners verarmd na streeksdorpe. Wanneer daardie munisipaliteite dan vinniger begin verval weens die ekstra druk, verskuif en vermenigvuldig die migrasie na stede. Die stedelike administrasies, wat reeds ernstige probleme ervaar, kreun op hul beurt weer onder die ekstra las – hiervan is dele van Johannesburg en Bloemfontein reeds hartseer voorbeelde.

Sonder stabilisering van betekenisvolle dele van die platteland, is die ernstige destabilisering van al die stedelike omgewings in Suid-Afrika – en derhalwe die land self – ’n wesenlike risiko.

Sakeliga se mees onlangse litigasie-stappe in Ditsobotla vorm deel van ’n strategie vir ’n regsraamwerk ingevolge waarvan plaaslike gemeenskappe staatsverval so spoedig moontlik na die hoogste regeringsvlak kan eskaleer vir oplossings – en by gebrek aan oplossings binne die regering, na oplossings buite die regering.

In belang van landelike en stedelike gemeenskappe en die land in geheel moet die reg van mense om self oplossings te skep, daar waar die versuim van die staat tot verval en ineenstorting lei, beskerm en uitgebrei word.

Die president en kabinet het steeds ’n kans om hul verantwoordelikhede na te kom, maar die inwoners van Ditsobotla kan nie op ’n naïewe wyse op ’n ongewillige regering staatmaak nie. Hoewel dit ’n langdurige proses sal verg, is dit onvermydelik dat die vakuums van staatsverval gevul sal moet word deur alternatiewe oplossings wat sakelui en gemeenskappe stap vir stap ontwikkel, in kombinasie met goeie regspraak waarmee die howe gepaste ingrepe afdwing, erken en beskerm.

Lees Sakeliga se hofstukke hier.

Geskiedenis van litigasie

Sakeliga voer reeds etlike jare ’n litigasieproses om die beste regspraak moontlik oor munisipale verval te ontwikkel. Dit sluit in:

  1. Deelname aan ’n rigtinggewende appèlhofuitspraak in 2021, wat perke gestel het aan Eskom se praktyk om betalende eindgebruikers se krag af te skakel wanneer ’n munisipaliteit nie die ontvangde gelde aan Eskom oorbetaal het nie. Ons litigasie het sedertdien miljarde rande se skade voorkom en derduisende sakelui en inwoners in honderde dorpe se ligte aan gehou.

  2. ’n Oorwinning in die Konstitusionele Hof in 2022, waarmee munisipale rade se regte beskerm is om, indien hulle wil, verkryging te doen op ’n grondslag van waarde-vir-geld eerder as BEE.

  3. Etlike hofbevele wat toenemend hoër vorme van staatsingrying by die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit afgedwing het.

  4. Hofbevele wat inwoners met geldige uitstaande munisipale heffingsdispute beskerm het teen die munisipaliteit se onwettige invorderingspogings, soos om krag en water van hulle te weerhou.