|
Background image

Sakeliga en NEASA bring ’n  dringende aansoek teen Gelyke Indiensneming kwotas

Op 8 Julie 2025, het Sakeliga en NEASA gesamentlik ’n dringende aansoek om ’n interdik teen die implementering van die sektorale numeriese kwotas vir 2025 vir gelyke indiensneming en die gepaardgaande administratiewe regulasies, aanhangig gemaak. Die aansoek sluit ook ’n versoek tot geregtelike hersiening en tersydestelling in.

Die aansoek betwis die wettigheid en konstitusionaliteit van die nuut ingestelde raamwerk vir gelyke indiensneming, wat streng ras- en geslagskwotas oor 18 ekonomiese sektore op die top vier beroepsvlakke instel. Hierdie kwotas, formeel gepubliseer in April 2025, vereis dat werkgewers met 50 of meer werknemers hul hele werksmag herstruktureer om die nasionale geslags- en rassedemografie van die land te weerspieël of ernstige gevolge in die gesig staar.

Die regsuitdaging bestaan uit twee dele:

  1. Geregtelike hersiening van die prosedurele handelinge van die Minister in die daarstel van kwotas, wat deurspek was met onreëlmatighede en tekortkominge in die proses.

  2. Konstitusionele uitdaging van die inhoud van die relevante artikels in die Wet op Gelyke Indiensneming (EEA) wat die bepaling en afdwinging van hierdie kwotas toelaat en fasiliteer.

In die funderende eedsverklaring voer Sakeliga en NEASA aan dat die minister nie opgetree het in ooreenstemming met die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid (PAJA) nie, aangesien sy nie die voorskrifte van artikel 15A van die EEA nagekom het voor die vasstelling en publikasie van die 2025 sektorale numeriese kwotas nie. Dit maak haar optrede onregmatig en ongeldig.

Die hofstukke, wat in die Gauteng-afdeling van die Hooggeregshof uitgereik is, wys op ooglopende prosedurele en substantiewe gebreke in die minister se proses, insluitend, maar nie beperk nie tot, die volgende:

  • Versuim om ekonomiese sektore behoorlik te identifiseer en te publiseer: Die minister het nagelaat om die 18 nasionale sektore behoorlik te identifiseer en vir openbare kommentaar vry te stel, soos vereis deur artikel 15A(1). Gevolglik het geen wettige sektore bestaan waarmee sy kon konsulteer nie. Dit het veroorsaak dat unieke subsektore met uiteenlopende ekonomiese kenmerke saamgevoeg is in breë, arbitrêre kategorieë, soos ‘vervaardiging’, waarop eenvormige kwotas toegepas is.
  • Onvoldoende konsultasies: Belanghebbendes in talle sektore is óf nie genooi nie óf het onvoldoende kennisgewing van virtuele ‘konsultasies’ ontvang, welke boonop telkens tot 1000 deelnemers beperk was. Verskeie belanghebbendes het die finale kwotas slegs ure voor hierdie sogenaamde konsultasies ontvang, wat minder as 15-minute vir terugvoer en besprekings toegelaat het. Die minister het versuim om in die ekonomiese sektore met werknemers, wat ernstig deur die kwotas geraak sal word, te konsulteer. Vir die minister, om ’n redelike, nie-arbitrêre besluit met betrekking tot die kwotas te neem, is hierdie soort konsultasie heeltemal onvoldoende.
  • Geen wettige publikasie: Die finale 2025-kwotas verskil drasties van die konsepkwotas wat onderskeidelik in 2023 en 2024 gepubliseer is. Ten spyte hiervan is die vorige konsepte nooit opnuut vir openbare kommentaar gepubliseer, soos vereis deur artikel 15(A)(4) van die wet, nie. Dit is ’n wetlike vereiste, en versuim om daaraan te voldoen, het ongeldige kwotas tot gevolg.
  • Kwotas is arbitrêr: Die minister het irrasionele en arbitrêre kwotas gestel wat nie die aard, omstandighede en uitdagings van elke sektor in ag neem nie. Geen oorweging is gegee aan die beskikbare vaardighede in elke sektor, die natuurlike geslagsverskil in sekere sektore, of die verskil in rassedemografie tussen die provinsies in Suid-Afrika nie.
  • Geen sosio-ekonomiese impakstudie uitgevoer nie: Die minister het versuim om ’n omvattende sosio-ekonomiese impakstudie oor die gevolge van die instelling van sektorale kwotas te bekom en te oorweeg. Die skema wat deur hierdie kwotas en regulasies ingestel word, is uiteindelik daarop gemik om die werksmag van elke aangewese werkgewer in Suid-Afrika, in elke sektor, op elke beroepsvlak, te dwing om te voldoen aan die rasse- en geslagsdemografiese profiel van Suid-Afrika se ekonomiese aktiewe bevolking. Dit kan nie rasioneel as ’n wetlike vereiste ingestel word sonder ’n deeglike assessering van die sosio-ekonomiese impak daarvan nie.
  • Oortreding van die Grondwet: Die kwotas ignoreer Suid-Afrika se grondwetlike bepalings oor nie-rassigheid, gelykheid voor die reg en administratiewe geregtigheid. Hierdie tweede deel van die regsaanslag, wat die grondwetlikheid van die ministeriële kwotas bevraagteken, sal later omvattend beredeneer word.

Tensy die hof dringend ingryp, sal alle werkgewers met 50 of meer werknemers in enige sektor verplig word om hul werksmag te herstruktureer volgens die 2025 kwotas.

Die gepaardgaande koste en administratiewe las, ten einde gelyke indiensnemingsplanne voor te berei of te poog om die bepalings te omseil of voor te berei vir die gevolge van nie-voldoening, waarmee hulle deur die staat gedreig word, sal permanent verlore wees vir werkgewers en die ekonomie. Vanaf 1 September 2025 sal werkgewers, hul besighede, werknemers en voornemende werknemers onherstelbare skade en verlies ly wanneer die gepoogde implementering van gelyke indiensnemingsplanne gebaseer op onregmatige kwotas ’n aanvang neem.

Individue sal in diens geneem word of nie, en bevorder word of nie, gebaseer op onregmatige kwotas. Werkgewers sal herstruktureer en ander permanente veranderinge aan hul werksmag en korporatiewe strukturering maak, nuwe werknemers aanstel en geleenthede prysgee asook die koste wat dit behels, dra, alles gebaseer op onregmatige kwotas.

Hierdie regsproses is die volgende belangrike stap in die voorkoming van onuitvoerbare, irrasionele en skadelike indiensnemingskwotas tot voordeel van werkgewers, werknemers en alle gemeenskappe regoor die land.