|
Background image

Teenstand teen die NGV en beurtgesondheid

  • Die Nasionale Gesondheidsversekeringswet (NGV) is 'n rampspoedige voorstel en verg teenstand totdat dit ongedaan gemaak of ontkragtig is.
  • Georganiseerde belangegroepe kan onnodige en duur kompromieë oor die NGV vermy deur te weier dat dit die onderhandelingsbasis bepaal en eerder die onderhandelingsterrein met volgehoue ​​en vasberade teenkanting te herdefinieer.
  • Teenstand moet insluit: omvattende litigasie; maksimum toepaslike nie-nakoming en nie-samewerking deur gesondheidswerkers, besighede en gebruikers; en onderhandeling vir groter vryheid aan sorgverskaffers om hul volle potensiaal te ontsluit om in gesondheidsbehoeftes te voorsien.

Toe president Cyril Ramaphosa die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering op 15 Mei 2024 onderteken het, het hy in wese voorgestel om gesondheidsorg te nasionaliseer.

Met sy ondertekening van so ’n absurde wetsontwerp het die president ’n verregaande onderhandelingsraamwerk vir die toekoms van gesondheidsorg probeer skep. Dit is ‘n kru tegniek, maar, as die raamwerk onnadenkend aanvaar word, een waarmee onderhandelinge skeefgetrek kan word vir skikkings buite ’n redelike en opbouende venster.

Dink aan ’n vakbond wat skaamteloos ’n 100%-loonverhoging eis en probeer om die ander partye tot onvolhoubare toegewings uit te lok. Nes dit met besighede neusie verby sal wees indien hulle in loononderhandelinge hiervoor val, so ook in politieke onderhandelinge. Dit is veral die geval in Suid-Afrikaanse politiek, waar luide retoriek die manier is waarop ’n mislukkende staat vir sy verlies aan gesag en uitvoerende vermoë probeer vergoed.

Eise vir ’n genasionaliseerde sorgstelsel moet nie met skugter kompromieë tegemoetgekom word nie, maar met sterk weerstand en konstruktiewe oplossings om die terrein vir onderhandelinge opnuut af te baken in die belang van ’n florerende gesondheidsorgomgewing.

Staat betaal, staat beheer

Die NGV is nie regtig ’n stelsel vir “gesondheidsversekering” nie, maar eerder ’n staat-betaal-staat-beheer stelsel. Vas van voorneme om mededinging, vrye keuse en onafhanklikheid in gesondheidsorg uit te knikker, dreig die NGV om nog ’n Eskom-agtige monopolie met “beurtgesondheid” te skep.

Die wet se gapende vaagheid beteken dat groot dele van die NGV algaande uit die duim gesuig sal word. Wat wél duidelik is is die oogmerk van sulke uiterste staatsbeheer dat private mediese skema’s en mediese versekeringpolisse grootliks sou verdwyn. Mediese besluite sal nie meer vryelik tussen sorgverskaffers, hospitale, praktisyns en pasiënte geneem word nie, maar bepaal word deur stelselvoorskrifte, burokratiese protokolle en staatsbegrotings. Met die NGV sal professionele gesondheidswerkers funksionarisse en pasiënte aansoekers wees in ’n staatstelsel, gestroop van hul outonomie.

Hierdie toestande sal gesondheidsorgwerkers afstoot. Baie sal kies om nie NGV-geakkrediteer te word nie. Andere sal die gesondheidsorgsektor heeltemal verlaat, vroeg aftree of na ander lande verkas. Weiniger talentvolle jongmense sal kies om mediese beroepe te volg. Die kritieke tekort aan gesondheidsorgpraktisyns in beheer van funksionele fasiliteite, sal die beskikbaarheid van gesondheidsorgdienste verder verminder, en lei tot lang waglyste, substandaard sorg, stygende koste en dalende mediese investering.

Die verslegtende gesondheidsorgsituasie sal geweldig nadelige ekonomiese bywerkinge hê. Verdere emigrasie van produktiewe gesinne en bykomende probleme om talentvolle mense uit die buiteland te lok, sal die skade vererger.

Skade reeds hier

Hierdie skade is nie net toekomstige tyd nie. Dit het reeds begin. Deur die NGV-wet te onderteken, en dus uitdruklike dreigemente te maak selfs voor implementering, het die regering onverantwoordelik opgetree. Dit het onmiddellik die risiko-inskatting van gesondheidsorgontwrigting en fiskale krisis verhoog en daarmee die toekomstige aantreklikheid van werk en sake doen in die land verlaag.

Mediese professionele lui, praktisyns en besighede sal dit reeds minder aantreklik vind om te belê en aan te stel. Voornemende mediese en verpleegstudente sal reeds meer aandag aan ander loopbaanopsies begin skenk het en minder tyd en geld in opleiding belê het. Besighede buite die sorgsektor sal reeds meer versigtig wees in hul langtermynbeleggingsbeplanning.

Hierdie effekte is dalk nog nie duidelik sigbaar nie, maar hulle is reeds werklik.

Fiskale feëverhaal

Teen ’n konserwatief geraamde R1 miljard of so, is die verwagte jaarlikse prys van die NGV ekonomies en fiskaal verlammend.

Konserwatief, want koste sal waarskynlik boontoe uitkring weens ’n oormaat beuselagtige vraag na “gratis” gesondheidsorg, ongebreidelde bedrieglike eise, en die staat se endemiese verkrygingskorrupsie.

Die wet maak dit duidelik dat NGV-verkryging onderhewig sal wees aan dieselfde SEB- en staatsverkrygingsreëls wat talle staatsentiteite met verlammende kostepremies besmet het. Ons moet bedag wees daarop dat die staal ’n toegewyde poging sal aanwend om die hele bedryf aan ‘3de-golf’ BEE-bepalings te onderwerp – dit wil sê, maatskappye verbied om hoegenaamd aan die gesondheidsorgbedryf deel te neem, tensy hulle volgens voorgeskrewe SEB-vlakke herstruktureer.

Gegewe die staat se huidige jaarlikse begroting van sowat R2 miljard, sal die NGV-prys die regering dwing om nóg sowat 50% aan jaarlikse inkomste uit reeds uitgemergelde belastingbetalende huishoudings en sakeondernemings te onttrek. Dit is die soort fiskale en ekonomiese skok wat ekonomieë lamlê en state bankrot maak, wat hulle dryf na skuldwanbetaling of die gevaarlike versoeking van gelddruk en inflasionêre chaos. Hiperinflasionêre ineenstorting spruit immers altyd uit absurde fiskale beloftes naas verplettering van die privaatsektor se produktiwiteit.

Die NGV is dus nie net ‘baie duur’ of ‘fiskaal veeleisend’ nie. Dit is ekonomies ondenkbaar, tensy ’n mens dieselfde rampspoedige hiperinflasionêre lot wil tart as die verlamming van Zimbabwiese landbou tesame met daardie staat se onvervulbare fiskale beloftes in die laat 90’s.

Om die NGV te stuit en die onderhandelingsterrein te verskuif

Ons glo dit sal ’n behoorlike misrekening wees om die NGV-wet as ’n basislyn vir onderhandeling te aanvaar.

Om die onderhandelingsterrein te herdefinieer is moontlik en om verskeie redes nodig.

Die NGV is ’n hopeloos onrealistiese voorstel. Die Tesourie erken dit is onlewensvatbaar. Dit is baie ongewild onder en staar groot teenkanting in die gesig van mediese maatskappye, dokters, miljoene lede van private mediese skemas en polishouers, en privaat gesondheidsorgpasiënte. Maksimum haalbare nie-samewerking met die NGV-stelsel deur mediese praktisyns alleen, sou dit van meet af aan grootliks ontkragtig en onwerkbaar maak.

Boonop is die NGV-wet op talle regsgronde aanvegbaar en stel verskeie partye tans toegewyde en komplementêre litigasie uit meerdere hoeke op. Sakeliga se litigasie oor die NGV is in gevorderde voorbereiding en sal noodsaaklike bydraes vanuit ’n sakeperspektief lewer.

Benewens ons NGV-litigasie, bekamp ​​ons reeds die poging om mediese en farmaseutiese lisensiëring aan BEE te koppel. Dit is deel van ons groter verbintenis om die 3de golf van BEE, waarin alle ekonomiese aktiwiteit onderhewig word aan staatstoestemming op grond van rassekriteria, te stuit.

Goedontwerpte, vasberade litigasie in die openbare belang moet in die volle beskikbare mate aangewend word om die onderhandelingsterrein tot realistiese en konstruktiewe moontlikhede terug te skuif.

Verder, daar is tyd. Die NGV-wet, hoewel deur die president onderteken en reeds tot nadeel van sentiment in die gesondheidsorgbedryf, is nog nie in werking nie. Mediese skemas, hospitale en gesondheidspraktisyns gaan normaal voort. Die implementeringstydlyn sal waarskynlik stadig, ondoeltreffend, en geteister deur burokratiese en politieke wrywing wees. Dit bied ’n aansienlike venster, waarskynlik ’n paar jaar, om omvattende teenstand te bou.

Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval

  • Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
  • Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
  • Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet

Ons Missie & Impak

Oorweeg alternatiewe modelle noukeurig

Te midde van die goeie vooruitsigte teen die NGV, troon een gevaar bo ander uit. Hierdie gevaar is die risiko van voortydige toegewings en skadelike skikkings terwyl die staat se hand veel swakker is as wat hy voorgee.

Byvoorbeeld, een prominente idee wat in besprekings onder NGV-belanghebbendes voorgestel is is om private mediese skema-lidmaatskap aan alle formele sektor werknemers op te dwing. Hierdie model ontleen sy skynbare meriete aan die beweerde toename in private gesondheidsorgdekking onder die formeel indiensgeneemdes, wat sodoende die druk op openbare gesondheidsorgdienste verlig.

Maar hierdie resultaat is hoogs twyfelagtig.

Die sleutelvraag is waarom onversekerde werknemers in die formele sektor tans kies om nie lede van die private mediese fondse te wees nie.

Die antwoord is hulle skat ander behoeftes na groter waarde as voorkomende gesondheidsorgbydraes wat deur minimum voorgeskrewe voordeel regulasies buite hul bereik geprys word.

Forsering van werknemers om mediese bydraes met hul beperkte inkomste te finansier moet noodwendig ten koste kom van die kos en ander broodnodige goedere wat hulle tans koop.

En dit dien geen nut om aan te voer dat werkgewers die koste moet dra asof dit geen indiensnamegevolge sou hê nie. Die hoër indiensnamekoste van hierdie stap sou aanstellings net verder afbring.

Verder, as werknemers of werkgewers gedwing kan word om meer aan gesondheidsorg te bestee, sou dit net lei tot minder besteding en inkrimpings elders in die ekonomie. Dit sal ook bestaande alternatiewe gesondheidsorg- en versekeringsreëlings soos stokvelle en ander koöperatiewe skemas ondermyn.

Hierdie gedwonge versekeringsvoorstel is net een voorbeeld van die moeilikheid aan herstrukturering van die gesondheidsorgstelsel met gesentraliseerde voorskrifte om onrealistiese politieke voorkeure te paai. En dit wys die probleem met die poging om gesondheidsorg uit te brei deur regulatoriese uitvaardigings.

Van NGV tot ’n florerende gesondheidsorgomgewing

Om die NGV en swak kompromieë te vermy is ’n belangrike eerste doelwit, maar dit is nie genoeg nie. Verskuiwing van die onderhandelingsterrein beteken ook dat pogings tot hervorming van gesondheidsorg verder moet gaan as om bloot die NGV te stuit en die status quo te verdedig, tot die skep van ’n gunstige omgewing wat die volle potensiaal ontsluit van gesondheidsdienste om in sorgbehoeftes te voorsien.

Daar is veels te veel regulering in die gesondheidsorgsektor selfs sonder die NGV, nie te min nie.

Mediese versekeringsmarkte staar aansienlike en onnodige beperkings in die gesig oor watter tipe dekking hulle aan kliënte kan bied. Minimum Voorgeskrewe Voordele-reëls en ander beperkinge verbied mediese skemas om buigsaam op lede se uiteenlopende behoeftes, omstandighede en risikoprofiele te reageer. Farmaseutiese regulasies en prysbeheer beperk die verskaffing van waardevolle behandelings. Streng lisensievereistes is hindernisse vir die vestiging en uitbreiding van hospitale, klinieke en mediese fasiliteite. Beperkende, beswarende, staatsgemonopoliseerde mediese opleidingsbeleide verstik die aanbod van bekwame dokters, verpleegsters en tegnici.

Slegs ’n florerende en produktiewe ekonomie wat miljoene meer mense in produktiewe werk absorbeer tesame met groter vryheid vir gesondheidsondernemings om handel te dryf, te belê en te innoveer kan die nodige middele verskaf om gehalte gesondheidsorgvoorsiening op te skaal.

Die NGV keer hierdie logika op sy kop, deur belasting en regulatoriese laste by te voeg, welke uiteindelik produktiwiteit sal verpletter van die land se belangrikste bedrywe sal vernietig.

Gelukkig is die NGV nie onvermydelik nie. Dit moet hardnekkig uitgedaag word, en die vooruitsigte op sukses van hierdie uitdagings – indien volgehoue ​​en vasberade – is belowend.

Die onafhanklikheid van gesondheidsorgverskaffers moet beskerm word om te verseker dat hulle kan voortgaan om gehaltesorg te lewer en uit te brei. Gesondheidsbesighede moet ook, sover moontlik, wegstuur van oornakoming en voorafnakoming van die NGV en eerder vir so lank moontlik prioriteit verleen aan ’n sake-soos-gewoonlik, waardetoevoegende kliëntefokus.

Onafhanklike besighede en sakeorganisasies moet geduldig en onverskrokke bly, onnodige kompromieë vermy, en goedgestruktureerde teenstand ondersteun om tyd te koop en die NGV-wet te herroep of funksioneel kragteloos te maak.

Sodoende sal hulle ’n belangrike rol speel om ’n omgewing te vorm waarin gesondheidsorg kan gedy.