Skip to content
English|Afrikaans

Sakeliga doen aansoek om verlof tot appèl in waterheffingssaak

Die geskil tussen boere en die DWS oor watergebruiksheffings en verjaring is steeds onopgelos en hou wesenlike gevolge in.

Sakeliga, TLU SA en ses kommersiële boere het aansoek gedoen om verlof tot appèl teen die Hooggeregshof se weiering om te beslis of watergebruiksheffings vir kommersiële doeleindes aan ’n verjaringstydperk van drie jaar onderhewig is.

In ’n uitspraak wat op 17 September gelewer is, het die Hooggeregshof in Pretoria ons aansoek om ’n verklarende bevel van die hand gewys. Die hof het geweier om 'n beslissing te lewer oor of die watergebruiksheffings wat die departement van water en sanitasie (DWS) eis, kragtens die Verjaringswet verjaar het. Volgens die hof kan hierdie kwessie eers in ’n latere stadium van die geskil beslis word en kan boere intussen van alternatiewe regsremedies gebruik maak. Sakeliga voer aan dat hierdie bevinding foutief is.

In dieselfde uitspraak het Sakeliga en sy mede-applikante wel gedeeltelike verligting bekom toe die hof die DWS gelas het om binne 60 dae volledige, uiteengesette state, tesame met die betrokke fakture, aan die ses kommersiële boere te verskaf vir alle bedrae wat die departement van hulle eis. Sakeliga appelleer nie teen hierdie bede van die bevel nie.

Gronde vir appèl

Sakeliga en sy mede-applikante het aansoek gedoen om verlof tot appèl omdat die geskil tussen boere en die DWS oor watergebruiksheffings en verjaring steeds onopgelos is en wesenlike gevolge inhou. Die Hooggeregshof se uitspraak verleen foutiewelik aan die DWS uitsluitlike seggenskap oor óf en wanneer die onderliggende regsgeskil voor ’n hof dien.

Die DWS eis steeds volle betaling, insluitend rente, van watergebruiksheffings wat reeds verjaar het, ondanks die geskille daaroor. Die departement het skriftelik die standpunt ingeneem dat watergebruiksheffings nie aan verjaring ingevolge die Verjaringswet onderhewig is nie en dat die betaling daarvan ’n grondwetlike verpligting is.

Ingevolge die Nasionale Waterwet kan die departement rente hef, watervoorsiening beperk of opskort en eienaars direk aanspreeklik hou vir uitstaande bedrae. Die departement het selfs gedreig om boere, wat na bewering versuim om te betaal, by kredietburo’s aan te meld en hul identiteit in die openbaar bekend te maak.

Die Hooggeregshof het foutiewelik bevind dat dit nie oor die geskil kan beslis nie, ondanks die Wet op Hoër Howe se bepaling dat howe oor bestaande, toekomstige of voorwaardelike regte en verpligtinge kan beslis, selfs voordat ’n dagvaarding uitgereik is. Boere hoef dus nie te wag totdat die DWS hulle hof toe neem om betaling af te dwing voordat hulle die hof om regshulp kan nader nie.

Die Hooggeregshof het boonop nagelaat om die breër openbare belang by die beëindiging van hierdie regsonsekerheid behoorlik te oorweeg. ’n Beslissende uitspraak sou kon verhoed dat moontlik duisende applikante afsonderlik moet litigeer oor dieselfde regskwessie, wat ’n buitensporige, onnodige en vermybare las op openbare hulpbronne sal plaas.

Konteks

Die DWS probeer reeds jare lank om betwiste watergebruiksheffings van boere in te vorder, waarvan sommige selfs van vóór die Nasionale Waterwet van 1998 dateer. In Oktober 2021 het die departement self erken dat watergebruiksheffings ná drie jaar verjaar, voordat dit later sy eie standpunt weerspreek het.

Sakeliga en sy mede-applikante het hul aansoek in Julie 2025 by die Hooggeregshof in Pretoria ingedien om die departement van water en sanitasie te verhoed om betwiste watergebruiksheffings onwettig in te vorder. Die saak is op 11 Augustus 2026 aangehoor en uitspraak is op 17 September gelewer. Die aansoek om verlof tot appèl is op 8 Oktober ingedien.

Sakeliga se standpunt bly dat enige boer, maatskappy of ander entiteit wat vir watergebruik gefaktureer word, duidelike, verifieerbare en behoorlik uiteengesette rekeninge moet ontvang. Uitstaande bedrae kan ook nie onbepaald nagejaag word in stryd met die statutêre bepalings oor verjaring nie.

Hulpbronne

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.