|
Gedeelte 406 van die plaas Driefontein, wat deur die Ekurhuleni-metro onteien is.

Driefontein onteiening: Metro probeer opnuut vergoeding ontduik

Die Ekurhuleni-metro se jongste stap is 'n strategie van onteiening sonder vergoeding deur ander middele

Sakeliga Staff
18 Januarie 2026

Die Ekurhuleni-munisipaliteit, oos van Johannesburg, misbruik regsprosesse om vergoeding aan die voormalige grondeienaar in die Driefontein-onteiening-sonder-vergoeding-saak te ontduik.

Gedeelte 406 van die plaas Driefontein, wat meer as R30 miljoen werd was ten tyde van onteiening in 2019, het in September 2025 opspraak gemaak toe Sakeliga daarop gewys het het dat díe ANC-beheerde stad dit sonder vergoeding onteien het in 'n doelbewuste poging om 'n presedent vir grondonteiening in Suid-Afrika te skep.

Sedert September verlede jaar het die stad die mediasieproses ondergrawe en gebly by hul weiering om vergoeding vir die onteiening van die eiendom te betaal. Die stad poog nou met verdere uitgerekte regsaksie om te verhoed dat 'n vergoedingsverhoor voortgaan, in die hoop om 'n hofbevel te vermy wat hulle sal dwing om die voormalige eienaar te vergoed.

Ná wesenlike plaaslike en internasionale druk is die munisipale raad einde verlede jaar deur sy Departement Risiko- en Regsdienste ingelig dat dit "'n moeilike taak sou wees om die hof te oortuig om nul-vergoeding" vir hierdie toetssaak te handhaaf. Die Departement Risiko- en Regsdienste het uitgewys dat, indien die verhoor voortgaan, die hof waarskynlik die munisipaliteit sal beveel om vergoeding te betaal, aangesien die onteiening kragtens die Wet op Onteiening van 1975 plaasgevind het, wat "nie voorsiening gemaak het vir nul-vergoeding nie," anders as die nuwe wet wat in Desember 2024 deur president Cyril Ramaphosa onderteken is, wat "uitdruklik voorsiening maak vir onteiening sonder vergoeding."

Mediasie misluk terwyl stad alternatiewe maniere soek om vergoeding te vermy

Die hof het verlede jaar die saak na mediasie verwys, welke op 31 Oktober 2025 sou begin en, indien dit misluk, opgevolg sou word met 'n 18-dae-verhoor vanaf 2 Februarie 2026.

Ten spyte van weke se mediasie het die munisipaliteit nie net skikkingsaanbiedinge van die voormalige eienaar, Business Venture Investments 900, van die hand gewys nie, maar reeds ten tyde van die mediasie onderlangs met sy regspan saamgewerk om te soek na enige regstrooihalm wat die verhoor in Februarie sou kon ontspoor.

In Desember 2025, sewe jaar ná die onteiening, het die munisipale raad uiteindelik 'n strooihalm gevind om aan vas te klou, en desperaat besluit om sy 2018-onteieningsbesluit te "herroep".

Om hierdie "herroeping" te legitimeer, het die munisipale raad ook besluit om 'n nuwe hofsaak te begin om sy eie oorspronklike onteieningsbesluit te hersien, wat die voormalige eienaar in wese verhoed om die verhoor oor vergoeding voort te sit, en wat die saak waarskynlik vir etlike bykomende jare sal vertraag.

Kortom, die Ekurhuleni-munisipaliteit beoog om sy eie daad van onteiening van Driefontein tersyde te stel (ongedaan te maak) om 'n ongunstige uitspraak oor die "nul-vergoeding"-aspek te omseil. Die doel is om die finansiële uitgawe van vergoeding te vermy, sowel as om ’n politieke- en regsterugslag vir die munisipaliteit se selfverklaarde planne met onteiening sonder vergoeding te voorkom.

In sy gevolglike hersieningsaansoek poog die stad nou op misleidende wyse om die hof te oortuig dat sy besluit om te "herroep" gegrond was op die beweerde ongeskiktheid van Driefontein vir ontwikkeling, eerder as die stad se verskuilde en desperate regsmotiewe. Die stad versuim om die hof in te lig dat:

  • Sy munisipale raad vanuit die staanspoor in 2018 besluit het om Driefontein as 'n "toets"-saak vir "onteiening van grond sonder vergoeding" te gebruik en nou eers tot sy regsontduikingstaktiek toevlug neem nadat die raad ingelig is dat 'n verhoor sou beteken dat hy gedwing sal word om vergoeding te betaal;
  • Die Ekurhuleni-munisipaliteit in 2018 self die voormalige eienaar se aansoek vir residensiële ontwikkeling goedgekeur het, en in 2017 die grond teen R26,5 miljoen gewaardeer en dit dienooreenkomstig belas het; en
  • Die eiendom se beweerde verminderde geskiktheid vir residensiële ontwikkeling (wat na bewering in Mei 2025 ontdek is), indien korrek, ten minste gedeeltelik toe te skryf is aan die munisipaliteit se eie versuim om onwettige mynbou te voorkom en sinkgatontwikkeling op aangrensende munisipale eiendomme teë te werk, tesame met gebrekkige ontwikkelingsplanne en onvoldoende omgewingsverslae wat die stad nie een keer probeer regstel het nie.

Die stad se jongste stap is meer as 'n desperate, mala fide (te kwader trou) poging om verleentheid te vermy. Dit is ook 'n strategie van onteiening sonder vergoeding deur ander middele, deur die voormalige eienaar van Driefontein te noop om miljoene meer in regskoste te betaal en nog vele jaar te moet klaarkom sonder billike waarde vir sy voormalige eiendom.

Boonop toon dit 'n hardnekkige verbintenis tot die staande benadering van onteiening sonder vergoeding vir ander eiendomme, en 'n roekelose minagting van private eienaars se welstand. Die munisipaliteit se Afdelingshoof van Gespesialiseerde Regsondersteuning gee in die stad se funderende eedsverklaring blyke van hierdie roekeloosheid wanneer hy oor vergoeding vir die eiendom en skade verklaar: "Ek moet benadruk dat die Munisipaliteit uitdruklik enige beskouing verwerp dat vergoeding verskuldig is."

Om onteiening in pas te bring met nasionale regeringsbeleid

Die Ekurhuleni-munisipaliteit se optrede toon tekens van 'n taktiese terugval om gunstiger regsgronde vir toekomstige gevalle van onteiening sonder vergoeding te verseker. Die benadering strook met die verklaarde beleid van die Nasionale Regering, om onteiening sonder vergoeding eers toe te pas sodra die nuwe Wet op Onteiening van 2024 in werking tree, op 'n datum wat deur president Cyril Ramaphosa afgekondig sal word.

So onlangs as November 2025 het die Suid-Afrikaanse adjunk-president Paul Mashatile in die Parlement verkondig dat die regering se "enigste uitdaging is dat ons vinniger moet beweeg," en bygevoeg dat hy "bly is om te rapporteer dat ons 'n veel vinniger beweging" met grondonteiening begin sien.

Op 10 Januarie 2026 het Fikile Mbalula, die sekretaris-generaal van die ANC, die grootste party in die koalisieregering, by 'n partyvergadering in Rustenburg verklaar dat "onteiening van grond sonder vergoeding wanneer ons ons mag terugkry, geïmplementeer moet word."

Nog baie jare van litigasie en miljoene aan uitgawes

In reaksie op die stad se poging om geregtigheid te omseil, het die voormalige eienaar se regspan aangedui dat hulle teleurgesteld en gefrustreerd is dat elke poging om 'n skikking met die Ekurhuleni-munisipaliteit te bereik, misluk het. Prakties gesproke het die stad se blote aansoek – selfs ontdaan van meriete – die voormalige eienaar gedwing om te aanvaar dat die verhoor nie op 2 Februarie 2026, soos geskeduleer, kan begin nie. Tensy invloed van buite af op die munisipale raad uitgeoefen word, moet die voormalige eienaar van Driefontein nou bepaal of hy hierdie bykomende misbruik van die hofproses – ontwerp om sake vir baie jare uit te rek – moet teëstaan.

Selfs al sou die munisipaliteit se aansoek, om hersiening van sy oorspronklike besluit, op een of ander wyse die onwaarskynlike seën van die howe ontvang, sou dit nie geregtigheid vir die voormalige eienaar bring nie.

  • Eerstens, hoe onwettig dit ook al is, sal die stad se hersieningstrategie nou maklik etlike jare tot die litigasielas vir die voormalige eienaar toevoeg, wat lei tot miljoene meer in regskoste, sowel as waardevolle tyd en aandag aan die aangeleentheid.

  • Tweedens, die nuwe fase van hersieningslitigasie sal bykomend wees tot regskoste wat reeds miljoene beloop, die voortgesette verlies van 'n aansienlike bate met 'n waarde van meer as R30 miljoen vir sewe jaar sover, en opgelope rente wat die Ekurhuleni-munisipaliteit sedert die datum van onteiening verskuldig is, wat ook miljoene beloop. Konserwatief beraam, oorskry die totale finansiële impak nou R55 miljoen ($3,5 miljoen).

Boonop, as die voormalige eienaar nie onteien was nie, kon die eiendom reeds residensieel ontwikkel gewees het en ordegroottes meer werd gewees het. Dit sou ook nie beklad met politieke omstredenheid, en die risiko's van onwettige mynbou, onregmatige besetting, en sinkgatontwikkeling op die aangrensende munisipale grond gewees het nie.

Sakeliga berei litigasie voor

Sakeliga en ons vennote berei litigasie teen die nuwe Wet op Onteiening van 2024 voor juis omdat dit konfiskasie van grond sonder vergoeding fasiliteer, in teenstelling met die 1975-wet. Sakeliga monitor die Driefontein-aangeleentheid, maar is nie 'n party daartoe nie.

Hulpbronne:

home-cta-image

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.