![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2025/06/International-pressure-against-BEE-is-ramping-up-copy.jpg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2025/06/International-pressure-against-BEE-is-ramping-up-copy.jpg",
"wpYear": "2025",
"wpMonth": "06",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
76409,
76419
],
"migratedAt": "2025-09-18T14:03:58.750Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 389043
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/1yODsNfR4pX1BK0RtawY89/09f36d307094538f6ceb359210847943/International-pressure-against-BEE-is-ramping-up-copy.jpg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Internasionale druk teen BEE neem toe
Die Amerikaanse regering het die vrystelling van Amerikaanse entiteite in Suid-Afrika van alle BEE-vereistes en rasgebaseerde wetgewing as een van sy noodsaaklike voorvereistes vir die normalisering van bilaterale verhoudinge tussen die Verenigde State en Suid-Afrika gestel.
Sakeliga verwelkom hierdie diplomatieke verwikkeling. Dit dui op ’n beduidende eskalasie in internasionale druk teen rasbeperkende ekonomiese beleide in Suid-Afrika, met meer wat kom.
Vanuit ’n internasionale handelsperspektief kom die Suid-Afrikaanse regering se rasbeperkende beleide neer op nie-tarief versperrings. Dit beperk die lisensiëring, eienaarskap, bestuur, voorsieningskettings, indiensneming en korporatiewe transaksies van internasionale maatskappye en hul filiale in Suid-Afrika.
Die groeiende internasionale teenstand teen BEE is gevolglik nie tot die Amerikaanse regering beperk nie.
Dit het in Sakeliga se interaksie met buitelandse maatskappye wat plaaslik bedrywig is, asook buitelandse ambassades, duidelik geword dat die Suid-Afrikaanse regering die drempel van nie-tarief en rasbeperkende versperrings wat buitelandse regerings en maatskappye bereid is om te verdra, oorskry het. Veral die dreigende September-sperdatum vir internasionale maatskappye om met die inwerkingstelling van die regering se Billike Indiensneming-rassekwotas te begin, veroorsaak beduidende onrus.
Die internasionale weerstand teen BEE en ander rasbeperkende beleide van die Suid-Afrikaanse regering sal in die komende maande en jare verder toeneem.
BEE-vrystelling nou ’n Amerikaanse voorvereiste
Die vereiste om Amerikaanse entiteite van BEE en alle rasgebaseerde wetgewing vry te stel, is een van vier voorvereistes van die Amerikaanse administrasie soos oorgedra in ’n amptelike verklaring deur ’n afvaardiging wat die leier van die Vryheidsfront Plus, dr. Corné Mulder, Saai* se uitvoerende hoof dr. Theo de Jager, en NEASA* se uitvoerende hoof, Gerhard Papenfus, ingesluit het na samesprekings in Washington vandeesweek.
Onder die vier voorwaardes is drie al voorheen publiek gestel: plaasaanvalle, doodskrete teen boere, en risiko’s van onregverdige grondonteiening is almal in President Trump se uitvoerende bevel van 7 Februarie 2025 genoem en onlangs openlik en breedvoerig in die Withuis tussen President Ramaphosa en President Trump bespreek.
Rasbeperkende ekonomiese beleide en hul uitwerking as nie-tarief versperrings is egter nie spesifiek in die uitvoerende bevel of vroeëre openbare skakeling aangeroer nie, en het eerder sydelingse aandag geniet in kommentaar oor Elon Musk se Starlink-vooruitsigte en raswette in die algemeen in Suid-Afrika.
Die uitdruklike insluiting van die vierde voorvereiste aangaande BEE is dus ’n nuwe openbare ontwikkeling in die diplomatieke verhouding en te verwelkom. BEE en ander rasbeperkende wetgewing en regulasies rig reeds vir meer as twee dekades ontsaglike ekonomiese en maatskaplike skade aan.
Moontlike implikasies van hierdie BEE-voorvereiste
Die aankondiging mag verskeie belangrike implikasies hê, insluitend maar nie beperk tot die volgende nie:
Deur uitdruklik die skade van BEE en rasbeperkende wetgewing aan Amerikaanse sakebelange uit te sonder en uit te wys dat dit onregverdige nie-tarief handelsversperrings vir Amerikaanse firmas daar kan stel, word rasbeperkende wetgewing deur hierdie voorvereiste oor BEE vanaf bloot binnelandse sake na die vlak van internasionale ekonomiese en diplomatieke verhoudinge verhef.
Op die heel korttermyn is dit van belang veral in die lig van die dreigende 8 Julie-sperdatum vir Trump se invoerheffings en die gepaardgaande onderhandelinge.
Op den duur mag dit ’n verhewiging van Amerikaans-geleide bilaterale of selfs multilaterale druk teen rasbeperkende wetgewing in Suid-Afrika meebring, met gebruik van verskeie ekonomiese en politieke hefbome.
Deur sy belange ten opsigte van BEE te beklemtoon, sal die Amerikaanse regering waarskynlik toenemende teenstand teen BEE en rasbeperkende wetgewing onder ander state aanmoedig en legitimeer. Boonop kan verwag word dat ondernemings van ander lande hul besorgdheid sal uitspreek dat Amerikaanse firmas toegelaat mag word om op gunstiger voorwaardes as hulle mee te ding.
Plaaslike ondernemings sal eweneens besorgdheid uitspreek oor die mededingingsvoordeel wat Amerikaanse firmas geniet. Dít sal op sy beurt weer bydra tot verskerpte eise deur plaaslike ondernemings en sakegroepe om BEE-vereistes heeltemal te beëindig.
Die moontlikheid van uitkringende aandrang op BEE-vrystelling verhoog die belang en gewig van die VSA se BEE-voorvereiste aansienlik. ’n Mens kan dus verwag dat die Suid-Afrikaanse regering sterk teenstand sal bied, en bygevolg dat diplomatieke eskalasie ook sal toeneem.
Eskalasie mag bekende vorme aanneem, soos geteikende internasionale sanksies deur die VSA of formele klagtes en gevolge vir wat as Suid-Afrika se skending van Wêreldhandelsorganisasie-ooreenkomste beskou sal word en meer.
Die huidige Amerikaanse regering het egter al ’n bereidwilligheid getoon om minder ortodokse metodes te oorweeg. Scenario's wat oorweeg behoort te word, sluit in dat die VSA, gekonfronteer deur ’n verbete Suid-Afrikaanse regering, met sy beplande verhoging van tariewe op goedere vanaf Suid-Afrika kan volhard, maar wél besluit om maatskappye wat nie aan BEE deelneem nie of wat aan BEE onttrek, van daardie tariefverhogings vry te stel.
Sulke maatreëls sou Amerikaanse ondernemings wat in Suid-Afrika sake doen vir die duur plaaslike nie-tarief versperrings wat hulle in die gesig staar vergoed, en terselfdertyd die mees onafhanklike dele van die privaat sektor in Suid-Afrika versterk. Dit is noemenswaardig dat maatreëls soos hierdie kleurblind sou wees, aangesien nie-deelname aan die staat se BEE-program oop is vir almal, ongeag ras, wat verkies om waardegerigte besigheid te doen.
Pad vorentoe
Sakelui moet bewus wees van die eskalerende tendens in sowel BEE-beleid as teenstand teen BEE-beleid, beide binnelands en buitelands. Sakeliga sal voortgaan om sy litigasie teen rasbeperkende beleid uit te brei, ’n alternatiewe etiek van aangewese nie-samewerking te ontwikkel en aan te moedig, en verhoudinge met binnelandse en buitelandse sakegemeenskappe wat BEE wil beëindig of grootliks wil beperk, te versterk.