|
[WordPress Migration Data]
{
  "source": "WordPress Migration",
  "originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2025/02/Sakeliga_DA-BEE-copy.jpg",
  "wpPath": "/wp-content/uploads/2025/02/Sakeliga_DA-BEE-copy.jpg",
  "wpYear": "2025",
  "wpMonth": "02",
  "wpPostCount": 2,
  "wpPostIds": [
    75844,
    75820
  ],
  "migratedAt": "2025-09-18T13:59:15.838Z",
  "migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
  "fileSize": 579416
}
[End WordPress Migration Data]

Handhaaf minister Steenhuisen sy voorganger se AgriBEE-beleid of nie?

19 Februarie 2025

Ná skakeling oor verskeie maande het John Steenhuisen, minister van landbou, gister uiteindelik ’n mediakonferensie gehou – maar ’n gulde geleentheid laat verbygaan om Sakeliga en ander se kritieke vraag te beantwoord: Sal hy sy departement se bestaande beleid oor AgriBEE in die landbou handhaaf, of sal hy dit terugtrek en ’n nuwe, positiewe visie vir sy departement nastreef?

Die departement se AgriBEE-beleid is ’n staande interne beleid om BEE-vereistes uit te brei met die uitdruklike doel om BEE verpligtend in die landbou te maak.

Pleks daarvan om dinge op te klaar het minister Steenhuisen maniere probeer vind om die voortsetting van sy voorgangers se rasgebaseerde statutêre “transformasie”-heffings soos uiteengesit in sy departement se BEE-beleid te verdedig. Hy het ook verkeerdelik geskerm dat hy geen sê het in AgriBEE nie – wat daarop dui dat hy nie besef dat daar ’n onderskeid bestaan tussen enersyds sy eie departement se interne en amptelike AgriBEE-plan en AgriBEE-afdwingingsriglyne en andersyds die minister van handel, nywerheid en mededinging se AgriBEE-sektorkodes nie. Ook het hy versuim om te vermeld dat Sakeliga sedert Oktober 2024 proaktief met hom oor AgriBEE in kontak was.

Terwyl dit van kritieke belang is dat die minister nou ’n nuwe rigting aandui, het hy egter die indruk geskep dat hy van voorneme is om die AgriBEE-beleide wat hy geërf het te handhaaf – maar hierdie keer met sy eie regverdigings en ’n strewe om dit meer doeltreffend as sy voorgangers te implementeer.

Indien minister Steenhuisen hierdie indruk wil regstel, sal hy dit onverwyld moet doen.

Die minister se alternatiewe visie behoort ’n verwerping in te sluit van sy voorgangers se AgriBEE-plan en AgriBEE afdwingingsriglyne, én ’n verbintenis om regulasies wat deelname aan die landbou-ekonomie met ras beperk, te staak en ongedaan te maak waar dit binne sy magte val.

Die byna eksklusiewe fokus in die mediakonferensie op statutêre heffings was misplaas en vreemd.

Nieteenstaande die minister se verskeie korrekte en inkorrekte aansprake oor die statutêre heffings is hierdie maatreëls onbeduidend in vergelyking met die departement se breër AgriBEE-beleid. Dít is Sakeliga se kern-bekommernis en was die fokus van ons verklarings.

Hierdie beleide is in stryd met die minister se eie party en sy standpunt as minister in 2024.

In 2023 het sy party ten regte beswaar gemaak toe die departement – onder sy voorganger – regulasies uitgereik het om sekere voorkeurtariefkwotas vir in- en uitvoere in die landbou te beperk op ’n BEE-grondslag. Sy party het dit ’n “nuwe stel raskwotas wat die Suid-Afrikaanse ekonomie verder sal verwoes” genoem – en ’n klagte aanhangig gemaak by die Europese Unie en die Verenigde Koninkryk vir die verbreking van internasionale handelsooreenkomste.

Toe ons hom in Oktober 2024 daarop bedag maak dat die direkteur-generaal daardie einste invoer-en-uitvoer-beperkings heruitgereik het, het hy ons persoonlik in kennis gestel dat hy dit nie goedkeur nie en dat hy iets daaromtrent gaan doen: “Ongelukkig is daar in baie departemente uitstaande sake wat aan ’n soort ‘muscle memory’ uit vorige termyne toegeskryf kan word. Dit sal tyd neem om uit te stryk, maar ons is toegewyd om dit te doen.”

Van die minister se onderneming verlede jaar om aan ons terugvoer te gee, het niks gekom nie. Hy het ook nie gereageer op ons versoek tot ’n ontmoeting om aanvaarbare oplossings te bespreek nie. Pleks daarvan het hy verdere “transformasie”-regulasies uitgereik – identies aan dié van sy voorgangers – én toegelaat dat die invoer-uitvoer-beperkings in plek bly.

Sakeliga verstaan dat diepgaande hervorming nie maklik is nie. Die feit dat ons nog geen regsaksie teen hom aanhangig gemaak het nie en tot dusver in die openbaar net twee implementerings van AgriBEE in sy ampstermyn uitgewys het, getuig daarvan. Tensy hy sy beleide en regulasies onderskei van díe van sy voorgangers, kan hy maar verwag dat Sakeliga se benadering teenoor sy departement – waarmee ons begin het lank voordat hy in die stoel was – sal voortgaan en verskerp sal word om daardie beleide teen te staan.

Die departement se AgriBEE-beleide is skadelik, onregmatig, en ’n skending van Suid-Afrika se handelsverpligtinge.

Aangesien die implementering van die beleide tot dusver gelukkig betreklik ondoeltreffend was, bly die landbousektor in die geheel robuust, maar dit kan nie as vanselfsprekend aanvaar word nie.

Die beleid van AgriBEE is ’n voorbeeld van die derde golf van BEE, waar die regering probeer om toestemming vir ekonomiese aktiwiteite te beperk – tensy dit voldoende BEE-toegewings ontvang. Kliek hier vir ’n 5-minuut video wat die drie golwe van BEE verduidelik.

Hulpbronne vir joernaliste, ontleders, landbou-ondernemings en ander belangstellendes:

  • Sakeliga se aanvanklike brief aan minister Steenhuisen in Oktober 2024, hier.
  • Sakeliga se prokureursbriewe aan minister Thoko Didiza, minister Steenhuisen se voorganger, in November 2023, hier.
  • ’n Oorsig oor die departement se AgriBEE-plan en riglyne vir die afdwing daarvan, hier.
  • Die departement se AgriBEE-plan, hier.
  • Die departement se AgriBEE-afdwingingsriglyne, hier.
  • Voorbeeld van die departement se rasgebaseerde beperkings op voorkeurtarief uitvoere, hier.
  • Voorbeeld van die departement se rasgebaseerde beperkings op voorkeurtarief invoere, hier.
  • Voorbeeld van die minister se statutêre heffings wat uitdruklik vir "transformasie" gereserveer word, hier.

-Einde-