Skip to content
English|Afrikaans

Sakeliga | Die Ontstaansverhaal

Sommige mense sê dit is die staat se rol om ’n gunstige sakeomgewing te verseker. 

Waar so ’n aanname wêreldwyd tekortskiet, is dit in Suid-Afrika sekerlik noodlottig.

Die Suid-Afrikaanse regering is besig met ’n ongekende aanslag op produktiewe ondernemings. Of dit nou om politieke en ideologiese redes is, of uit onkunde, of vir selfverryking: nie die oorsake nie en ook nie die gevolge van staatsverval en skadelike inmenging gaan danksy die staat weggaan nie. Dit sal slegs verbeter wanneer daar sterk genoeg bronne van mag en gesag buite die staat bestaan, wat balans kan herstel waar die staat homself te buite gaan.

Sakeliga bestaan omdat ons glo ’n gunstige sakeomgewing is in die finale instansie die verantwoordelikheid van sakelui self.

Sakeliga is in 2011 gestig toe 'n groep sakeleiers besluit het dat 'n nuwe en onafhanklike sakeorganisasie nodig was. Skadelike staatsoptrede moes teengestaan word, op die gebied van handelsvryheid en eiendom, gedeelde infrastruktuur en sekuriteit. Die vakuum van staatsverval moes met ’n beter orde gevul word. En die kapitaal van sakelui moes vir hierdie en ander verdienstelike sake gemobiliseer word, om ’n gunstige sakeomgewing en ’n florerende gemeenskap te verseker.

Sakeliga ontleen sy naam aan die Hanseliga, ’n handelsalliansie wat eeue van voorspoed in Noord-Europa help skep het. Wat nie ’n staat of ’n ryk was nie, maar nogtans ’n handelsverbond was wat in eie reg tot die orde van die tyd bygedra het en ’n gesonde magsbalans help verseker het. By Sakeliga put ons inspirasie uit daardie sakelui en entrepreneurs wat verstaan het dat sakegemeenskappe verantwoordelikheid moet aanvaar vir die ekonomiese fondasie van die gemeenskappe wat hulle dien.

Net soos die Hanseliga, is ons 'n liga. 'n Alliansie. 'n Netwerk van ondernemings, sake-organisies, sakelui en ondersteuners wat saamstaan wanneer skadelike kragte die ekonomiese orde bedreig.

Vandag word Sakeliga erken as 'n vooraanstaande litigant teen skadelike staatsoptrede en vernietigende ekonomiese beleid. Ons litigasie dien die openbare belang en ontsluit skaalbare regspresedente vir ’n vrye ekonomie. Ons kies hoë-impak sake wat ernstige ekonomiese skade voorkom of beduidende ekonomiese impak lewer.

Ons weet egter ook dat litigasie sekerlik nie alle probleme kan oplos nie. Daarom ontwikkel ons ook alternatiewe strukture om die vakuum van staatsverval te vul. Dit sluit in ons internasionale handelkantoor, ons uitbreidende ondersteuningsnetwerk vir sakeorganisasies, veral op die platteland, en selfs loodsprojekte op sekuriteitsgebied.

As 'n selfstandige organisasie sonder winsoogmerk is ons bly om die ondersteuning te geniet van duisende toegewyde befondsers wat ons missie deel en die uitvoering moontlik maak.

Die Hanseliga het blywende voorspoed geskep omdat sy lede verstaan het dat ’n florerende ekonomiese orde konstante bouwerk, verdediging, en vernuwing verg. Net so met Sakeliga – dit is ons missie.

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.

Sakeliga | Die Ontstaansverhaal | Sakeliga | Sakeliga