|
Media Statement Convoy

Sakeliga maak beswaar teen SANRAL se konsepbeleid oor padfasiliteite

SANRAL poog om 'n parallelle BEE-nakomingstelsel te skep deur transformasievoorwaardes aan goedkeurings vir padtoegang te koppel.

Sakeliga Staff
30 Maart 2026

Sakeliga het sy formele besware ingedien teen die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (SANRAL) se Konsepbeleid vir Rus- en Diensfasiliteite langs Nasionale Paaie. Die beleid dreig om die agentskap se regsbevoegdhede onregmatig uit te brei en BEE-verpligtinge op 'n skadelike en onwettige wyse op private besighede af te dwing.

Die konsepbeleid sal aan SANRAL verreikende magte verleen om te bepaal wie ’n besigheid langs ’n nasionale pad mag bedryf, watter transformasie-sertifisering vereis word, hoe sodanige besighede gestruktureer moet wees, en watter heffings betaalbaar is – selfs wanneer die besigheid op privaatgrond bedryf word en geen kontraktuele verhouding met SANRAL het nie.

Hul enigste "oortreding" is dat hulle naby 'n pad geleë is wat deur SANRAL bestuur word.

Geen regsbevoegdheid

Die konsepbeleid steun op artikels 44 en 48 van die wet op die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap Beperk en Nasionale Paaie (SANRAL-wet), wat handel oor toegangsbeheer tot nasionale paaie. Die doel van die bepalings is om padveiligheid en verkeersvloei te bestuur.

Die konsepbeleid oorskry egter die doel van hierdie bepalings deur dit as grondslag aan te wend vir 'n omvattende kommersiële en sosio-ekonomiese reguleringsraamwerk.

Kragtens die SANRAL-wet is die agentskap se mandaat beperk tot die beplanning, finansiering, konstruksie, bedryf, bestuur en instandhouding van nasionale paaie. SANRAL is nie 'n ekonomiese reguleerder of lisensie-owerheid vir private besighede nie, en het geen bevoegdheid om transformasievereistes op private grondeienaars af te dwing nie. Die wet verleen geen gesag aan SANRAL om te bepaal wie besighede op privaatgrond langs nasionale paaie mag besit, bedryf of daarin mag belê nie.

Die konsepbeleid is dus nie net inhoudelik onaanvaarbaar nie, maar ook onregmatig omdat SANRAL nie die sodanige bevoegdheid ingevolge Suid-Afrikaanse wetgewing het nie.

Onwettige oplegging van BEE op private operateurs

Die konsepbeleid vereis dat ontwikkelaars en eienaars van fasiliteite soos vulstasies, restaurante, rusplekke vir vragmotorbestuurders en padstalle ten volle aan SANRAL se Transformasiebeleid moet voldoen. Dié beleid is egter 'n interne verkrygingsinstrument.

Dit bepaal hoe SANRAL sy begroting aan kontrakteurs, verskaffers en konsultante vir die bou van paaie en instandhouding bestee. Die konsepbeleid vereis nou dat private besighede op privaatgrond aan dieselfde raamwerk moet voldoen, selfs al kontrakteer hulle nie met SANRAL nie, bestee hulle nie openbare fondse nie, en lewer hulle geen produk of diens aan SANRAL nie. Die gevolg is dat ontwikkelaars en eienaars van hierdie fasiliteite aan SANRAL se B-BBEE-nakomingsvereistes sal moet voldoen, bloot as voorwaarde om toegang tot die nasionale padnetwerk te verkry.

Dit is nog 'n voorbeeld van Derde Golf-BEE.

SANRAL poog om 'n parallelle BEE-nakomingstelsel vir private besighede te skep deur transformasievoorwaardes aan goedkeurings vir padtoegang te koppel. Beheer oor openbare padinfrastruktuur word misbruik as 'n hefboom om rasgebaseerde verpligtinge op private operateurs af te dwing, deur 'n statutêre reguleringsfunksie om te keer en in te span as 'n instrument vir sosio-ekonomiese ingryping, sonder so ‘n regsbasis.

Skadelige gevolge vir besighede en verbruikers

Benewens die regstekortkominge hou die beleid ook wesenlike risiko's vir besighede en die breër ekonomie in. Die konsepbeleid sal:

  • Toetrede tot die mark belemmer weens gesentraliseerde goedkeurings, afstandsvereistes tussen fasiliteite en die konsolidering van persele.

  • Mededinging verhinder deur bestaande rolspelers te beskerm en markgedrewe toetrede te beperk.

  • Koste vir besighede en verbruikers verhoog met omsetgebaseerde heffings van tot 10%.

  • Belegging ontmoedig weens regulatoriese onsekerheid, kort huurtermyne en die risiko's verbonde aan diskresionêre toegangsgoedkeurings.

Boonop plaas dit buitensporige administratiewe en nakomingslaste op private operateurs, terwyl dit kommersiële aansporings deur voorskriftelike eienaarskap- en strukturele vereistes sal ontwrig.

Volgende stappe

Private besighede wat op privaatgrond bedryf word, behoort nie verplig te word om eienaarskap prys te gee, hul bedrywighede te herstruktureer of transformasie-voldoening aan ’n padagentskap te bewys nie. Boonop beskik die entiteit wat hierdie onaanvaarbare eise stel in hierdie geval nie oor die regsbevoegdheid om dit te doen nie.

Sakeliga sal hierdie beleid uitdaag indien dit in sy huidige weergawe, of enige weergawe met soortgelyke gebreke, uitgevaardig word

home-cta-image

Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker

Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.