Sakeliga stel AGOA-wysigings voor om handelstoegang vir kwalifiserende besighede te behou
Sakeliga se AGOA-submissie beoog ’n duidelike aansporing en ’n praktiese pad vir besighede en jurisdiksies in Suid-Afrika – en heel sub-Sahara Afrika – om skadelike binnelandse beleide te weerstaan
Sakeliga het voorgestel dat die African Growth and Opportunity Act (AGOA) gewysig word om VSA-vriendelike besighede en subnasionale jurisdiksies in Afrika steeds toegang tot die Amerikaanse mark te bied, selfs wanneer nasionale regerings nie aan AGOA se kwalifikasievereistes voldoen nie.
Dit sal AGOA se bestaande binêre raamwerk (waarvolgens ’n hele land óf volledig kwalifiseer óf glad nie kwalifiseer nie) uitbrei tot 'n stelsel wat voordele toeken aan individuele produsente en streke wat hulle tot markbeginsels en gesonde etiese standaarde verbind.
Die voorstel, soos uiteengesit in Sakeliga se formele voorlegging aan die Amerikaanse handelsverteenwoordiger (United States Trade Representative, USTR) op 15 Mei 2026, is ingedien na aanleiding van die USTR se versoek om voorleggings oor die modernisering van AGOA. Die versoek kom te midde van groeiende kommer in Washington, oor partygrense heen, dat AGOA verouderd geraak het en nie meer die Verenigde State se doelwitte in Afrika suid van die Sahara doeltreffend bevorder nie. Die wetgewing is onlangs met een jaar verleng tot 31 Desember 2026, hangende 'n omvattende hersiening.
Sakeliga se dinamiese alternatief
Sakeliga se standpunt is dat ’n hernude AGOA wat toeganklik bly vir daardie dele van Afrikalande wat aan die program se markstandaarde en etiese vereistes wil voldoen – gegewe ook al die gunstige oorspoelgevolge daarvan – verreweg beter is as ’n AGOA waarvan almal uitgesluit is.
Sakeliga se submissie stel daarom voor dat AGOA deur twee meganismes gemoderniseer word:
- Toegang vir kwalifiserende besighede.
Handelsvoordele kan direk toegestaan word aan individuele produsente en vervaardigers wat formeel, openlik en tasbaar aantoon dat hulle aan markbeginsels en arbeidstandaarde voldoen. Dit kan verseker dat produktiewe en verantwoordelike besighede toegang tot die Amerikaanse mark behou en nie onder die optrede van ’n nie-kwalifiserende nasionale regering ly nie. - Toegang vir kwalifiserende streke.
Handelstoegang kan verleen word aan spesifieke subnasionale jurisdiksies, soos provinsies, munisipaliteite of ekonomiese sones, indien hulle aan Amerikaanse standaarde ten opsigte van eiendomsreg en handelstoegang voldoen, ongeag die kwalifikasiestatus van die nasionale regering.
Albei meganismes steun grootliks op bestaande Amerikaanse doeane- en handelsprosedures, terwyl dit aan AGOA die groter buigsaamheid verleen waarvoor talle wetgewers, besighede en beleidsontleders reeds jare lank pleit. Sakeliga se voorstel put uit en bou voort op verskeie betekenisvolle bydraes uit die afgelope dekade.
Waarom dit nou van belang is
Talle Afrikalande, insluitend Suid-Afrika, sal waarskynlik nie 'n ernstige AGOA-kwalifikasiehersiening op meriete slaag nie.
Op die huidige trajek staar besighede dwars oor Afrika toenemend strawwe handelsmaatreëls deur die Verenigde State in die gesig, veral invoertariewe, terwyl nie-kwalifiserende regerings hulself na vertragingstaktieke eerder as wesenlike hervormings wend. ’n Alternatief hiertoe, op besigheids- en jurisdiksievlak, sal die lot van produktiewe ondernemings en hervormingsgesinde streke ontkoppel van beleidsgeskille tussen hul nasionale regerings en Washington, en daarmee aan hulle ’n konkrete roete bied om marktoegang op eie meriete te behou.
Suid-Afrika se regering versuim byvoorbeeld om markbeginsels te handhaaf en brei – in stryd met AGOA se vereistes – rasgebaseerde handelsbeperkinge binnelands en internasionaal toenemend uit. In plaas daarvan om AGOA-toegang vir die hele land te beëindig, sou die Verenigde State kon kies om dit te handhaaf vir dáárdie besighede en goedere afkomstig uit dáárdie jurisdiksies wat die regering se rassebeperkende programme verwerp en op ’n nie-rassebeperkende grondslag sake dryf.
Gepas vir Amerikaanse oogmerke, sonder bykomende koste
Die Verenigde State se Nasionale Veiligheidstrategie van 2025 bepleit ’n verskuiwing weg van hulpgesentreerde afhanklikheid na ’n model van handel en belegging.
Toegangsvoorwaardes op ondernemings- en jurisdiksievlak ondersteun daardie verskuiwing direk, omdat dit marktoegang aan Amerikaanse standaarde koppel en voldoening daaraan beloon. Omdat verifikasie deur die privaat sektor gefinansier en bestuur kan word, bevorder hierdie model sulke doelwitte sonder bykomende koste vir die Verenigde State.
Slot
Sakeliga se AGOA-submissie beoog ’n duidelike aansporing en ’n praktiese pad vir besighede en jurisdiksies in Suid-Afrika – en heel sub-Sahara Afrika – om skadelike binnelandse beleide te weerstaan. Dit geskied dit by wyse van ’n voorgestelde meganisme wat vir die VSA werkbaar is en aantreklik kan wees, omdat dit wederkerige voordele bring na waar dit saak maak, ’n sterk hefboom bied, en selffinansierend sal wees.
Hulpbronne:
Help ons om 'n florerende ekonomie te verseker
Jy kan ekonomiese orde herstel deur ons werk te befonds.
