![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2025/02/Sakeliga-EWC-03012025-Image-5.jpg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2025/02/Sakeliga-EWC-03012025-Image-5.jpg",
"wpYear": "2025",
"wpMonth": "02",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
75659,
75648
],
"migratedAt": "2025-09-18T13:59:20.006Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 453581
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/6PEkVcLboQHCM5vQPuxmFl/c726edccd121f47bbcfb43b5956d9a2b/Sakeliga-EWC-03012025-Image-5.jpg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Sakeliga gaan die Onteieningswet teenstaan
Sakeliga het sy regspan instruksie gegee om die Onteieningswet (“Wet”) teen te staan.
Die Wet is daarop gerig om die regering te sterk in sy uitdruklike begeerte om onteiening aansienlik te verskerp en om dit teen nul of ander nie-markverwante vergoeding te doen. Die oogmerk is om staatsbesit van eiendom te verhoog. Dit raak grond en alle ander bates en versterk wetteloosheid in ’n land wat reeds onder hoë misdaadvlakke en gereelde grondbesettings gebuk gaan. Dit hou ’n ernstige bedreiging vir die ekonomiese orde in Suid-Afrika in, ondermyn konstitusionalisme, en moet teengestaan word.
Hoewel die Wet ‘n ernstige bedreiging daarstel, is dit nie geheel en al ’n unieke beleidsmaatreël van die huidige regering nie.
Bestaande wetgewing word reeds vir vorme van ontneming gebruik. Dit sluit die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging (laas gewysig in 2013) en die Mededingingswet, soos in 2018 gewysig, in. Nes die Onteieningswet, misbruik hierdie wetgewing die begrip “openbare belang” om eienaarskap of bestuursbeheer teen onder markprys van besighede met wit eienaars na die staat en sy gekose begunstigdes te laat verwissel. Dit word in die openbaar verdedig op sterkte van ’n beroep op die openbare belang en bevordering van florerende swart gemeenskappe. In praktyk word die opbrengste van sodanige ekonomiese vervreemdings egter deur ’n beperkte, regeringsverbonde groep geniet, ten koste van die publiek. Gevolglik – en gegewe die geïntegreerde aard van die ekonomie – word feitlik almal deur ’n kleurblinde negatiewe vermenigvuldiger-effek benadeel.
Een van die valse regverdigings, waarmee die Onteieningswet verdedig word, is grondrestitusie.
Grondrestitusie verwys na die herstel van eiendom of vergoeding daarvoor aan diegene wat deur die Wet op Naturellengrond van 1913 en daarna van eiendom ontneem is. Van die meer as 70,000 eise wat in die 1990’s ingedien is, is meer as 90% egter reeds afgehandel. Onafgehandelde eise is óf te wyte aan ’n gebrek aan meriete aan die eise verbonde, óf die regering se burokratiese ondoeltreffendheid.
Die Wet is nóg nodig nóg daarop gerig om die restitusieproses af te handel. Die Wet is boonop nie bedoel om grond aan diegene wat nie grond het, oor te dra nie. Die Wet skep eerder ’n meganisme waarmee die staat meer eiendom kan bekom en dit dan gebruik om sy beheer oor die ekonomie en die politieke en sosiale lewe te verstewig. Die uiteindelike gevolg sal tweeledig wees: staatseienaarskap van grond sal toeneem én frustrasies oor grond sal onopgelos bly, met groter en groter risiko vir onrus en chaotiese grondbesettings.
Dit is nodig om die werklike rede vir die Wet se wye magte van onteiening van enige bate, teen nie-markverwante of selfs “nul”-vergoeding in die oë te staar, naamlik dat die regering van plan is om wesenlik daarvan gebruik te maak.
Anders sou daar geen rede wees om die Wet deur te voer nie.
Gevolglik – en teen die agtergrond van die regering se geskiedenis van skadelike inmenging en staatsverval – kan geen waarde geheg word aan die regering se onlangse bewerings dat “die Wet verantwoordelik geïmplementeer sal word om negatiewe ekonomiese uitwerkings te vermy nie.”
Inteendeel, die manier om die negatiewe ekonomiese uitwerkings te vermy is om die Wet te herroep.
Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval
- Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
- Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
- Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet
Die Wet se skadelike gevolge is nie bloot ’n toekomstige moontlikheid nie, maar reeds in spel. Deur die Wet te onderteken, en dus aan die bedreiging beslag te gee selfs alvorens dit geïmplementeer is, het die regering onverantwoordelik opgetree. Onmiddellik is persepsies oor die sekuriteit van eiendom aangetas, waarmee die aantrelikheid van sakegeleenthede en langtermynbeleggings verlaag is en ’n kernpilaar van maatskaplike orde ondermyn is.
Dit is nie heeltemal duidelik hoe vinnig die staat die Wet sal probeer implementeer nie. Staatsondoeltreffendheid, die negatiewe reaksie van invloedryke organisasies en internasionale handelsvennote, en praktiese kompleksiteit beteken dat dit etlike jare kan neem om die ergste gevolge te ervaar. Watter venster van geleentheid dit ook al bied moet aangegryp word om die Wet teen te staan en ongedaan te maak, óf dit prakties skadeloos te stel eerder as om sulke verreikende magte in die staat te laat vestig.
Die doel van Sakeliga se aanvanklike hofaansoek sal wees om die ergste klousules uit die Wet te verwyder. Dit wil sê, daardie klousules wat ongeregverdigde onteiening en onteiening teen nie-markverwante pryse bevorder. Sodanige klousules is in stryd met artikel 25 van die Grondwet van Suid-Afrika deurdat dit voorsiening maak vir, onder meer, sogenaamde “nul” vergoeding, onteiening van sogenaamde ongebruikte grond, en die uitsluiting van tersaaklike faktore by die bepaling van vergoeding.
Ons verwag dat die aanvanklike litigasie langdurig sal wees, moontlik etlike jare, en uiteindelik tot ’n meer ingeperkte wet sal lei. Ons is in verbinding met verskeie partye wat ook litigasie oorweeg, en beskou ons litigasie as aanvullend en vanuit ’n ekonomiese perspektief noodsaaklik.
Na afloop van die aanvanklike litigasie, of moontlik gepaard daarmee, verwag ons om by soveel toetssake as nodig in te gryp ter ondersteuning van gesonde regspraak oor markverwante vergoeding en die perke aan staatsonteiening.
Benewens litigasie sal Sakeliga voortgaan met sy strategie om alternatiewe strukture te ontwikkel daar waar staatsinstellings verval. Dit behels onder meer die bevordering van ’n alternatiewe en gesonde etiese grondslag vir weerstand teen skadelike staatsinmenging deur maksimum aangewese nie-nakoming, die verdieping van ons verhoudings met internasionale handelsvennote om toepaslike beleidsreaksies aan te moedig, en die ondersteuning van plaaslike sakekamers om te verseker dat openbare en privaat eiendom in sowel stedelike as landelike gebiede landswyd beskerm word.