Sakeliga verwelkom Konstitusionele Hof-uitspraak oor hoeksteen van gesondheidsorgvryheid
Die Sertifikaat van Behoefte sou aan die staat die mag verleen het om aan gesondheidsorgpraktisyns voor te skryf waar hulle mag praktiseer en watter dienste hulle mag lewer.
Sakeliga verwelkom gister se uitspraak van die Konstitusionele Hof ten gunste van Solidariteit en ander applikante, waardeur ’n “sentrale pilaar” van die Wet op Nasionale Gesondheidsversekering (NGV-wet) ter syde gestel word.
Die hof het artikels 36 tot 40 van die Wet op Nasionale Gesondheid – die sogenaamde Sertifikaat van Behoefte-skema – eenparig onkonstitusioneel verklaar en uit die wet geskrap.
Die Sertifikaat van Behoefte sou aan die staat die mag verleen het om aan gesondheidsorgpraktisyns voor te skryf waar hulle mag praktiseer en watter dienste hulle mag lewer.
Die Konstitusionele Hof het na behore erkenning gegee aan die professionele vryheid van mediese praktisyns, die operasionele regte en werklikhede van private gesondheidsinstellings, asook die belang van pasiëntsorg. Die uitspraak versterk terselfdertyd die breër saak teen die NGV en maak die staat se praktiese taak om die NGV te implementeer aansienlik moeiliker.
Ten minste drie bevindinge in gister se uitspraak is van belang vir die breër saak teen die NGV:
- Die staat kan nie op goeie bedoelings steun as plaasvervanger vir getuienis nie
Die staat moet objektiewe getuienis lewer dat sy skema werklik die beweerde doelwitte sal bereik. Geen sodanige getuienis is vir die Sertifikaat van Behoefte voorgelê nie. Die staat staar 'n soortgelyke gebrek in die gesig met sy NGV-voorstel, wat voorgee om gesondheidsorg van private gehalte aan miljoene meer mense teen laer koste te lewer, sonder om op gehalte in te boet. Dit is 'n vergesogte voorstel wat indruis teen omvangryke deskundige getuienis, en waarvoor die staat geen deeglike bewys gelewer het nie. - Die inhoud en omvang van wetgewing kan nie later deur regulasies bepaal word nie
'n Skema waarvan die omvang aan toekomstige regulasies oorgelaat word, is onbegryplik en ontneem die Parlement van sy wetgewende bevoegdheid. Só ’n skema kan nie regmatig nagekom word nie. Die NGV-wet, waarvan die implementering en toepassing grootliks afhanklik is van regulasies wat nog opgestel moet word, bevat dieselfde tekortkominge. - Mediese praktisyns en besighede het 'n grondwetlike reg om hul beroep te kies
Die reg om vryelik ’n beroep of bedryf te kies beskerm praktisyns se reg om self te besluit waar hulle praktiseer, waarin hulle spesialiseer en hoe hulle hul ondernemings bedryf. ’n Skema wat daardie keuses aan staatsvoorskrifte onderwerp, is ongrondwetlik. Die NGV-wet sal juis hierdie vryhede – van mediese skemas, hospitale en dokters, sowel as die pasiënte wat van hulle afhanklik is – uitwis.
Litigasie duur voort
Sakeliga se substantiewe konstitusionele saak teen die NGV-wet bly van krag, saam met dié van verskeie ander bekwame litigante, insluitend Solidariteit, wat die applikant in die saak oor die Sertifikaat van Behoefte-skema was.
Ingevolge 'n hofbevel mag die staat geen bepaling van die NGV-wet proklameer of implementeer nie, hangende die Konstitusionele Hof se uitsprake in die openbare deelname-sake.
Gister se uitspraak beperk die staat se beweegruimte verder – sowel in die openbare deelname-sake as in die substantiewe sake wat sal volg.
Die staat het al telkemale getoon dat hy beslissende en totale beheer oor gesondheidsorg in Suid-Afrika nastreef. Indien dit nie deur die NGV bereik kan word nie, verwag ons dat die staat alternatiewe maniere sal probeer om dieselfde doel te bereik — onder meer deur voorsieningskettings en lisensiëring verder te verpolitiseer en aan rasvereistes ter onderwerp, pryse sentraal te beheer, of die NGV stuksgewys af te dwing deur toenemende oorregulering van mediese skemas, hospitale en praktisyns.
Sakeliga sal sy teenstand teen die NGV-wet en die staat se pogings vir breër beheer oor gesondheidsorg voortsit.
