![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/07/Piet-le-Roux-Feature-1-1-scaled.jpg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2024/07/Piet-le-Roux-Feature-1-1-scaled.jpg",
"wpYear": "2024",
"wpMonth": "07",
"wpPostCount": 2,
"wpPostIds": [
74640,
74655
],
"migratedAt": "2025-09-18T13:59:37.091Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 548176
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/5QZzFJxqTL7eafOQZg1lvZ/1cdec45a6b00c0ec03be1ea382ea5731/Piet-le-Roux-Feature-1-1-scaled.jpg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Die 2024-verkiesings en daarna: Sakeliga se strategie en wat ons volgende gaan doen
Geagte Befondsers en Vriende van Sakeliga
Ek skryf oor die onlangse politieke verwikkelinge, wat dit vir Sakeliga se strategie beteken en wat ons beplan om volgende te doen.
Die nasionale verkiesing het vir ons meer vloeibare en mededingende politiek gebring. Die meeste ontledings fokus tans op hoe dit kan lei tot beter regering en staatsadministrasie, maar by Sakeliga vra ons ook hoe dit ons langtermyn strategiese doel beïnvloed. In die toenemende politieke kompleksiteit sien ons geleenthede om nie net die regering se impak op die sake-omgewing te verbeter nie, maar ook om uiteindelik die staat se rol in die ekonomie te herdefinieer.
Omdat verkiesings korttermyn politieke aangeleenthede beklemtoon, is dit maklik om te vergeet dat die rol van die staat sélf kan (en soms moet) verander. Deur sy geskiedenis het die staat beide uitgebrei en gekrimp, afhangend van die krag en gesag van ander georganiseerde sektore van die samelewing wat verder as vyfjaarlikse verkiesingsiklusse dink.
By Sakeliga beskou ons die komende dekade van toenemende politieke kompleksiteit as ‘n geleentheid om regering te hervorm, ja, maar ook om die staat-besigheid verhouding grondig te heronderhandel. Ons sal:
- regerings- en sakegerigte uitreiking onderneem, vir werkbare kommunikasielyne met uitgesoekte ministers en politieke partye, deelname op korttermyn aan die voorgestelde “Nasionale Dialoog” waar dit bevorderlik is vir ons missie, en koördinasie met ander sake- en burgerlike samelewingsorganisasies vir groter gekombineerde impak.
- ons litigasie verskerp om wetgewing en regulasies te hervorm of terug te druk waar dit sake soos BEE, infrastruktuur en sekuriteit aangaan, in 'n omgewing waar verenigde kabinetsteenstand moeiliker is.
- ons projekte voortsit om alternatiewe strukture op te rig vir plaaslike sakekamers, internasionale handelsverhoudinge en openbare sekuriteit, omdat die sukses daarvan steeds van kardinale belang is om die ekonomie – en gemeenskappe – se afhanklikheid van die staat te verminder.
Die vorming van die nuwe regering is geen rede om te ontspan nie. Inteendeel, sakelui behoort die sterk en swak punte van die regering in hefbome te omskep, om te sorg vir daardie nodige veranderinge wat dekades se diepgaande ekonomiese en maatskaplike voordele kan hê.
Die nuwe politieke landskap: geleenthede vir hervorming
Met die ANC wat sy meerderheid kwyt is, betree die nuwe regering en parlement ‘n meer vloeibare en mededingende stadium. Hierdie verandering bied ruimte vir groter balans en wedersydse kontrole binne die uitvoerende gesag, tussen die uitvoerende gesag en parlement, en tussen nasionale, provinsiale en plaaslike regerings. Daar is boonop nou ook partye in die kabinet wat konstruktiewe markgerigte hervormings wil hê.
Sakeliga beskou hierdie as ‘n geleentheid om, waar moontlik, hervormingspogings te dryf en, waar nodig, die verdeeldheid binne die regering te benut.
Ministers en adjunkministers wat die ANC teenstaan is omring deur ANC-lojale ministers, DGs en personeel, maar as hulle hul voete kan vind, die mees nadelige beleide soos BEE belemmer of weier om daaraan te voldoen, openbare administrasie vaartbelyn maak, en ‘n stem vir meer markvriendelike hervormings kan wees, sal hulle ‘n belangrike beperkende rol op magsoorskryding deur die uitvoerende gesag vervul.
Die huidige kabinet is een van die grootste ter wêreld. Byna een uit elke vyf lede van die nasionale vergadering is nou ministers of adjunkministers. So ‘n groot en polities gefragmenteerde liggaam gaan mank aan samehangende uitvoerende gesag – selfs net gereelde en produktiewe vergaderings sal moeilik wees. Hierdie kenmerk kan gebruik word om van buite af druk op die kabinet uit te oefen, soos deur meerdere omvattende hofgedinge.
Vir die afsienbare toekoms het Suid-Afrika dus ‘n regering wat
- moontlik meer doeltreffend in sekere gebiede kan regeer,
- partye insluit wat sterk gekant is teen baie skadelike ANC-beleid en -ideologie, en
- minder samehangend en meer vloeibaar is.
Sakeliga se Missie: Bou Skaalbare Oplossings Teen Staatsverval
- Sluit aan by duisende toegewyde, missie-gerigte befondsers
- Beskerm ons gemeenskappe teen ’n mislukkende staat
- Verseker ’n florerende ekonomie in die plek wat jy liefhet
Geleenthede is volop vir sakegemeenskappe wat in die openbare belang optree, mits hulle genoeg eksterne druk kan toepas.
Die nuwe politieke landskap: gevare van voortgesette staatsverval
Tesame met geleenthede vir hervorming onder die nuwe regeerakkoord, moet ons ook verskeie belangrike gevare van voortgesette staatsmislukking bekyk.
Die nuwe regering, en sekerlik die staat in die algemeen, weerspieël steeds oorweldigend die invloed van die ANC en sy sake-onvriendelike beleide.
Die ANC domineer steeds die kabinet en beklee die presidentskap en die meeste sleutelministersposte. Uit 32 ministers en 43 adjunkministers, tesame met die president en adjunkpresident, beklee die ANC 75% van posisies (die DA 15% en ander partye 10%). ANC-adjunkministers en ANC-lojale direkteurs-generaal is in alle nie-ANC-departemente teenwoordig. Intussen dra 1.2 miljoen gevestigde staatsamptenare steeds die onuitwisbare merk van die ANC se drie-dekade lange bewind.
Boonop is ministers en adjunkte, ongeag party-affiliasie, redelik streng beperk tot die bestaande — dikwels skadelike — wetsraamwerke. Nie-ANC ministers sal ongetwyfeld probeer om hierdie grense te toets en ooglopend skadelike beleid te belemmer, maar sal versigtig moet optree of die risiko loop om uit die kabinet geskop te word.
Nog ’n beperking op konkrete hervormings is die risiko dat die veelpartyregering kan verbrokkel. Die ANC, wat slegs 40% van stemme ontvang het, sal waarskynlik voortdurende en luidrugtige druk van binne en buite die parlement ervaar om nie invloed van partye soos die DA en VF+ toe te laat nie. Immers, twee derdes van kiesers het op 29 Mei een of ander weergawe van die ANC gesteun, en sy mees uitgesproke faksies sal die regering luidkeels daaraan herinner dat hulle nie vir sakevriendelike hervormings gestem het nie.
Wat wetgewing betref, is die probleem dat die land se ekonomiese krisis nie voortspruit uit wat die ANC nog beplan om te doen nie, maar uit skadelike wette wat oor die verloop van dertig jaar opgehoop het. Die behoefte om die veelparty-reëling in die uitvoerende gesag te handhaaf behoort ’n welkome remskoen vir die ANC se wetgewende ambisies te wees, maar sal ook die pogings kniehalter wat dringend benodig word om bestaande skadelike wette te wysig of te herroep.
Hierdie realiteite dui op hoe waarskynlik staatsverval en skadelike inmenging by sommige sleutelareas steeds is. Dit noodsaak omvattende litigasie in die openbare belang – met die beste moontlike benutting van die regsprekende deel van die staat vir hervorming – en die bou van alternatiewe strukture waar verval op die gebied van die staat, munisipaliteite, sekuriteit, en diplomasie dit vereis.
Wat dit vir Sakeliga se strategie beteken
‘n Ooglopende probleem in Suid-Afrika is dat die staat oor elke aspek van die ekonomie ‘n sê wil hê.
Daar is duidelik sake waaroor die staat normaalweg niks behoort te sê nie, soos met wie om in vennootskap te gaan, in diens te neem, of as kliënte en verskaffers te hê. Op gebiede soos handelsregulasies, eiendomsbeskerming, infrastruktuur en sekuriteit behoort die staat óf nie betrokke te wees nie, óf ten minste op te hou monopoliseer.
Om sulke probleme op te los, is verkiesings gewoonlik nie genoeg nie. Hulle versprei mag binne die staat; hulle behoort nie op staatgemaak te word om die rol van die staat te verander nie.
Daarom moet ‘n goeie strategie vir ‘n goeie sake-omgewing nie net probeer om die regering beter te maak nie, maar ook die staat se rol kan herdefinieer waar nodig, soos dikwels in die geskiedenis gedoen is. Ons moet daarna streef om te verseker dat die staat hom uit besigheid hou as dit nie sy besigheid is nie, en om vir sakelui die lank-agterweëgelate vryheid te verseker om na hulself en die gemeenskappe wat hulle dien om te sien, sonder om die toestemming van staatsamptenare te moet vra.
In die komende dekade sal Sakeliga:
- regerings- en sakegerigte uitreiking onderneem,
- ons litigasie verskerp om wetgewing en regulasies te hervorm of terug te druk, en
- ons projekte voortsit om alternatiewe strukture op te rig om die ekonomie – en gemeenskappe – se afhanklikheid van die staat te verminder.
Hierdie missie lê op ’n ander vlak as verkiesingsuitslae en vereis konsekwente, georganiseerde pogings om die staat-besigheid verhouding te onderhandel vir ‘n florerende ekonomie in die openbare belang. U en u medebefondsers en vriende van Sakeliga speel ‘n onmisbare rol in hierdie poging. U ondersteuning is ‘n waardevolle en noodsaaklike belegging om ‘n voorspoedige toekoms te verseker, in die plek wat ons liefhet.
Met beste wense,
Piet le Roux
Uitvoerende hoof
Sakeliga