![[WordPress Migration Data]
{
"source": "WordPress Migration",
"originalUrl": "https://www.sakeliga.org.za/wp-content/uploads/2024/08/Sakeliga-Logo.jpg",
"wpPath": "/wp-content/uploads/2024/08/Sakeliga-Logo.jpg",
"wpYear": "2024",
"wpMonth": "08",
"wpPostCount": 4,
"wpPostIds": [
76180,
75064,
76207,
75014
],
"migratedAt": "2025-09-18T13:59:06.798Z",
"migratedBy": "wp-media-to-contentful.mjs",
"fileSize": 48630
}
[End WordPress Migration Data]](https://images.ctfassets.net/ptr3cuja5dzu/6l8zqtTmbjkFkFedv8v6R9/454762f2ba34bfd3801639f30dfaf913/Sakeliga-Logo.jpg?w=1920&h=1080&fit=fill&fm=webp&q=85)
Die PPRA se taktiese terugval oor B-BBEE en volgende stappe
It removed level 8 BEE requirements, however, two threats remain.
Die PPRA se taktiese terugval oor B-BBEE en volgende stappe
Geagte Vriende in die eiendomsbedryf
Met die vooruitsig op ’n nederlaag in die hof het die PPRA verlede week ’n taktiese terugval begin uitvoer oor sy vlak 8 B-BBEE-vereistes.
Dit is ’n oorwinning vir Sakeliga, bedryfsorganisasies en besighede wat bydraes gelewer het om dit moontlik te maak. By een van drie punte staan die bedryf nou op veel vaster voet. Hierdie brief hou die vordering, die blywende risiko’s en aanbevelings vir volgende stappe aan u voor.
Vordering behaal
Verlede week het die PPRA se raadsvoorsitter ’n brief aan REBOSA gestuur.
Hierin is meegedeel dat die PPRA regsadvies ingewin het, en nie meer vlak 8 B-BBEE-sertifikate vir nuwe FFC-aansoeke sal vereis nie.
Eindelik kon hul regsadviseurs bevestig wat ons regspan in prokureursbriewe aan die PPRA uiteengesit het: dat die Wet se verwysing na ’n geldige BEE-sertifikaat in artikel 50(a)(x) nie as sertifikaat van BEE-nakoming geïnterpreteer kan word nie – nie op vlak 8 of enige ander vlak nie.
Hoewel die PPRA se herroeping ’n belangrike taktiese oorwinning is, is die wyse waarop dit geskied het kommerwekkend en laat dit geen ruimte vir gerustheid nie.
Dit is noemenswaardig dat die PPRA se terugval slegs op regstegniese gronde gedoen is, soos deur die raadsvoorsitter beklemtoon.
Sy brief skiet nie net tekort aan ’n verskoning nie, maar, belangriker, toon hoegenaamd geen erkenning van die ontwrigting, etiese komplikasies en kostes reeds aangegaan in die aangesig van ’n dreigement dat ekonomiese deelname op grond van ras beperk sal word nie.
Dit is ook merkwaardig dat die PPRA tot dusver nog geen openbare aankondiging gedoen het nie.
Ná byna vyf maande se uiterste ontwrigting, duur regsprosedures, en bestaansbedreigings vir duisende besighede ver buite slegs eiendomsagente, verwag die PPRA dat u met tweedehandse inligting tevrede moet wees.
Sy raadsvoorsitter (so ver ons kon vasstel) het bloot ’n brief aan slegs een van die dosyne bedryforganisasies opgestel.
Dit is nie net onprofessioneel nie, maar ook ’n uiters onvanpaste wyse om amptelike regulatoriese beleid te kommunikeer.
Hierdie optrede dui op ’n begeerte om die minimum te doen om litigasie te vermy, terwyl alle opsies oopgehou word om sy posisie in die toekoms te hersien of homself van alternatiewe middele tot dieselfde doel te bedien.
Die pad vorentoe
Die besluit van die PPRA om sy vlak 8-vereiste vir eers te herroep, verwyder voorlopig die mees dringende element van die bedreiging wat deur Sakeliga in April uitgelig is en waarvoor hofstukke voorberei is.
Twee van die drie elemente wat ons uitgewys het, bly egter voortbestaan.
Eerstens is daar die vereiste in die Wet dat, nie net eiendomsagente nie, maar alle eiendomspraktisyns ’n getrouheidsfondssertifikaat (FFC) moet hê.
Dit brei die reikwydte van die PPRA onbehoorlik tot duisende besighede en miljarde rand se omset uit. Die uitbreiding moet omgekeer word.
Toe die Eiendomspraktisynswet die ou Wet op Eiendomsagentskapaangeleenthede in 2022 vervang het, het dit sy fokus van “eiendomsagente” na ’n nuutgeskepte konsep genaamd “eiendomspraktisyns” verskuif.
Vandag word FFC’s nie net van eiendomsagente wat geld in ’n trust hou vereis nie, maar van alle “eiendomspraktisyns”. Hierdie benaming sluit twaalf verskillende bedryfskategorieë met uiteenlopende besighede in, soos: eiendomsagente, eiendomsontwikkelaars, eiendomsadministrateurs, verhuurders, huiseienaarsverenigings, afslaers, verbandmakelaars, ens.
Tweedens bepaal die Wet steeds dat FFC’s slegs aan aansoekers met ’n geldige B-BBEE-sertifikaat uitgereik mag word.
Vir nou aanvaar die PPRA ten minste dat “geldige” nie as “nakoming” van B-BBEE beskou word nie. Die sertifiseringsvereiste self is egter ongeregverdigd, duur en maak skadelike inbreuk op vryheid om handel te dryf en die samelewing te dien.
Die vereiste vir ’n geldige B-BBEE-sertifikaat dien geen wettige regeringsdoel nie, aangesien daar geen verband tussen voldoening aan die inherente vereistes vir ’n FFC en die besit van ’n B-BBEE-sertifikaat is nie.
Die vereiste behoort totaal en al geskrap te word. Om sout verder in die wonde te vryf, strek die sertifiseringsvereiste selfs tot duisende besighede wat nie aan BEE deelneem nie. Aan hulle word die bisarre vereiste gestel om jaarliks nagenoeg R10 000 elk te betaal net om ’n “geldige” maar “nie-nakomende” B-BBEE-sertifikaat te koop en in te dien.
Die ommekeer van die derde golf van BEE in die eiendomsbedryf
Danksy u ondersteuning is Sakeliga in staat om bedreigings in ’n breër konteks as net een bedryf te ontleed.
Wat die PPRA doen, is nie ’n geïsoleerde saak nie, maar vorm deel van ’n breër strategie waarin staatsreguleerders ’n geleidelike benadering gebruik om BEE af te dwing. Hierdie twee-stap benadering is slegs tydelik – nie permanent nie – met die jongste PPRA-stap afgeweer.
In fase een word die fondament gelê.
Waar uitvoerbaar, herdefinieer die staat eers ’n bedryf op ’n wyse wat die reikwydte van sy reguleerder aansienlik uitbrei. Die reguleerder implementeer dan verpligte BEE-verslagdoening geleidelik, hoewel gewoonlik sonder om beduidende strawwe aan nie-nakoming te koppel, asof verslagdoening slegs vir statistiese doeleindes is.
In fase twee, met die Trojaanse perd in plek, begin die reguleerder nakoming afdwing op ’n bedryf wat nou gewoond aan BEE-verslagdoening is.
Alle voorwendsels word dan laat vaar en geleidelik word alle besighede – selfs diegene wat geen kontrakte met die staat het nie – verplig om aan steeds-toenemende B-BBEE-eise te voldoen óf verbied om enigsins sake te doen.
Ons noem hierdie benadering die derde golf van BEE, omdat dit nie langer net gefokus is op groot korporasies soos die eerste golf in die 1990’s nie, en ook nie op besighede met staatskontrakte soos die tweede golf daarna nie.
Besighede in Suid-Afrika bevind hulself op die voorpunt van hierdie derde golf van BEE, en dit is van kardinale belang om dit in sy spore te stuit voordat dit die nuwe norm word, buite beheer tol, en verwoesting onder besighede, die publiek, en die land saai.
Die eiendomsbedryf het pas groot sukses behaal deur die PPRA te verhoed om fase twee van sy strategie in werking te stel.
As ons egter nie ook fase een terugdraai voordat dit gevestig word nie, sal die bedryf dit baie moeilik vind om sy handelsvryheid te handhaaf.
Volgende stappe
Die terugdraai van fase een vereis dat Sakeliga met sy litigasie voortgaan.
Ons beoog om ten minste twee kritieke vrae aan die hof te stel:
Is dit aanvaarbaar dat onverwante besighede wat op heeltemal verskillende maniere met eiendom werk as ’n enkele professie onder een reguleerder gegroepeer word?
Is dit aanvaarbaar en vir ’n regmatige regeringsdoel dat B-BBEE-sertifisering ’n voorvereiste vir deelname aan die ekonomie word?
Aangesien aspekte van BEE in die saak ter sprake is, sal die hofsaak ingewikkeld wees en risiko inhou. Die alternatief is egter erger. Die alternatief is dat die reguleerder voortgaan op sy pad om die bedryf te wurg en politieke toegangsvereistes vir ekonomiese deelname te vestig.
Ons aanbevelings
Met die onlangse vordering maar ook oorblywende risiko’s in ag genome, beveel ons die volgende aan:
Besighede wat ’n FFC geweier is op grond van B-BBEE-nakoming moet weer daarvoor aansoek doen. Stel ons asseblief onmiddellik in kennis indien u weer geweier word.
Gaan voort om sake op die basis van waarde te doen, insluitend met kliënte en vennote van dwarsoor gemeenskappe en rassegroepe. Dit kan gedoen word sonder en ongeag BEE. Waar u deur regeringsbeleid gedwing word om ’n middeweg te vind, doen so binne ’n raamwerk van maksimum haalbare nie-nakoming.
Ondersteun Sakeliga om BEE in én anderkant die howe te bestry.
Moedig u bedryfsorganisasie aan om ferm te bly en dring daarop aan dat die bedryfsorganisasie nie u of u bedryf aan algemene nakoming van politieke eise verbind nie.
Die uwe,
Piet le Roux
Uitvoerende hoof
Sakeliga