
Die staat moet die NGV en sy strewe na sentrale beheer oor gesondheidsorg laat vaar
'n Reaksie op die minister van finansies Enoch Godongwana se onlangse voorstel dat 'n skikking oor die NGV buite die howe bereik moet word
Tydens die sitting van die Nasionale Vergadering op 13 Januarie 2026 het die minister van finansies, Enoch Godongwana, voorgestel dat partye wat die NGV-wet teenstaan, eerder met die regering in gesprek tree om 'n onderhandelde skikking te bewerkstellig as om met litigasie voort te gaan. Ter stawing van hierdie voorstel het die minister aangevoer dat litigante, net soos die regering, reeds die beginsel van universele gesondheidsorg onderskryf.
Die minister se opmerkings toon duidelik dat daar kommer en verdeeldheid in die uitvoerende gesag heers oor die uitvoerbaarheid van die NGV-wet. Dit kan egter nog nie as 'n noemenswaardige toegewing beskou word wat aandui dat die staat werklik bereid is om te goeder trou te onderhandel nie.
Eendersyds bevestig hierdie opmerkings wat Sakeliga reeds geweet het: dat die Tesourie diep verontrus is oor die NGV se buitensporige kostegevolge — en waarskynlik desperaat is om dié uitkoms te voorkom — en dat die staat gevolglik op die duur sal moet erken dat hierdie irrasionele voorstel vir gesondheidsorgregulering laat vaar moet word. Dit is al geruime tyd duidelik dat die ministerie van finansies die NGV as onbekostigbaar en dus minstens, as onuitvoerbaar beskou. Mnr. Godongwana wou klaarblyklik die aansienlike belastingverhogings wat nodig sou wees om die NGV te finansier, vermy. Die Nasionale Tesourie is deeglik bewus daarvan dat verdere belastingverhogings huishoudings en ondernemings onder wesenlike ekonomiese druk sal plaas, belastingnakoming sal ondermyn, en — soos die 2025 BTW-debakel getoon het — polities ongewild sal wees.
Andersyds ontbreek daar spesifisiteit en duidelikheid in die minister se opmerkings, en stem dit nie ooreen met die optrede van die Departement van Gesondheid nie, wat klaarblyklik steeds vasbeslote is om die NGV met volle vaart deur te voer. Hoewel die minister se uitlatings daarop dui dat daar in sekere geledere van die uitvoerende gesag groter realisme oor die NGV begin posvat, is dit geensins duidelik of daar breë steun in die uitvoerende gesag vir betekenisvolle toegewings is nie, of dat die beginsel van staatsbeheerde gesondheidsorg – op welke wyse ook al – laat vaar is nie.
Universele Gesondheidsdekking
Die minister het ook valslik beweer dat die litigante die beginsel van universele gesondheidsdekking ondersteun. Die tyd sal leer of dit 'n opregte fout was, of 'n taktiese poging om die raamwerk vir moontlike toekomstige onderhandelinge te bepaal.
Daar is twee hoofprobleme met die begrip "universele gesondheidsdekking." Eerstens is die term dubbelsinnig en abstrak, wat aanleiding gee tot uiteenlopende interpretasies. Tweedens, selfs al sou daar konsensus wees oor die betekenis, bestaan daar steeds 'n wesenlike onenigheid oor die wenslikheid daarvan as 'n beleidsdoelwit, asook oor die middele en benaderings om dit te verwesenlik.
Die kernvraag is dus: Wat bedoel die staat werklik wanneer hy van "universele gesondheidsdekking" praat?
Volgens Sakeliga verteenwoordig die staat se verwysing na universele gesondheidsdekking ’n openbare gesondheidsbeleidsvoorstel wat ten doel het om gelyke gesondheidsdienste te lewer, deur middel van uitgebreide staatsbeheer en streng regulering van onafhanklike privaat- en gemeenskapsdiensverskaffers.
Hoewel daar skynbaar verdeeldheid tussen die Tesourie en die Departement van Gesondheid oor die uitvoerbaarheid van die NGV bestaan, is dit onduidelik of daar verdeeldheid oor die beginsel van die hegemoniese posisie van die staat in gesondheidsorg, of oor die staatsentriese interpretasie van universele gesondheidsdekking is.
Verskeie van die litigante wat die NGV-wet teenstaan en wat hul steun vir universele gesondheidsdekking of universele gesondheidsorg verklaar het, het heel waarskynlik nie die staat se definisie daarvan in gedagte nie. Hulle spreek eerder, te goeder trou, 'n wens uit dat alle mense eendag toegang sal hê tot voldoende gesondheidsdienste. Selfs waar daar 'n erkenning is vir die rol van die staat in die bediening van die armste gemeenskappe, impliseer dit nie noodwendig dat hulle met die staat se benadering tot die verwesenliking van só 'n toekoms saamstem nie.
Die Suid-Afrikaanse regering het sy voorneme duidelik gestel om die staat sentraal in gesondheidsorg te plaas, met harmonisering, herverdeling en regulatoriese dwang wat voorrang bo pasiënt- en doktersoutonomie, ekonomiese groei en mediese innovasie geniet. Hierdie benadering word weerspieël in die NGV-wet én in verskeie regulatoriese pogings wat los van die wet staan.
Wydverspreide beskikbaarheid en bekostigbaarheid van gesondheidsorg is egter nie moontlik sonder om eers die nodige middele te skep om gesondheidsdienste van gehalte te lewer én te bekostig nie. Slegs 'n florerende, produktiewe ekonomie – wat miljoene meer mense in produktiewe werk opneem – tesame met groter vryheid vir gesondheidsorgbesighede om handel te dryf, te belê en te innoveer, kan die hulpbronne verskaf wat nodig is om gehalte gesondheidsorgaanbod op te skaal vir die meerderheid van die bevolking, en moontlik eendag vir die hele bevolking.
Sakeliga sal beleide ondersteun wat hierdie realistiese vorm van gesondheidsorg-oorvloed werklik moontlik maak en bevorder.
Gevolge vir litigasie
Sakeliga sal nie litigasie laat vaar op grond van 'n vae, ongespesifiseerde toegewing deur die minister van finansies nie — om minstens twee redes:
Eerstens is die NGV-wet reeds deur die president onderteken, en die Departement van Gesondheid is besig met voorbereidings vir die inwerkingstelling daarvan, al het die wet nog nie amptelik in werking getree nie. Tensy of totdat die wet herroep of só gewysig word dat dit in praktyk onuitvoerbaar is, moet litigasiepogings wat daarteen gemik is, voortgaan.
Tweedens, solank die NGV-wet van krag bly en die staat volhard in sy strewe na staatsbeheerde gesondheidsorg, bly teenstand — en nie kompromie nie — die verantwoordelike benadering. Die NGV-wet en die staat se strewe om homself in die sentrum van gesondheidsorg te plaas, is volkome onredelik, irrasioneel en skadelik. Dit kan dus nie as 'n regmatige basis dien vir enige onderhandelde skikking oor gesondheidsorgregulering nie.
Vir so 'n aanduidende toegewing om die verloop van litigasie te beïnvloed, sal die regering sy erns moet toon deur – via bestaande regskanale – 'n formele, gekoördineerde en duidelike stel voorwaardes voor te lê vir oorweging en bespreking deur die partye en hul regsverteenwoordigers.
Indien formele onderhandelinge tussen die staat en verteenwoordigende groepe oor gesondheidsorgregulering in die toekoms sou plaasvind, sal dit van kardinale belang wees om te verseker dat die staat nie net die NGV-wet en enige ander enkelbetaler-gesondheidsorg-raamwerk moet prysgee nie, maar ook enige strewe na sentrale staatsbeheer oor gesondheidsorg, op watter wyse ook al, laat vaar.
Goeie vooruitsigte om die NGV te weerstaan
Die minister van finansies se opmerkings toon dat die NGV gelukkig nie onafwendbaar is nie. Teenstand moet vasberade voortgesit word, en die vooruitsigte op suksesvolle uitdagings — mits dit volgehou en standvastig is — is bemoedigend.
Verteenwoordigende groepe in die gesondheidsorgbedryf moet versigtig wees om nie voortydig toegewings te maak of skadelike skikkings aan te gaan nie, veral terwyl die staat se onderhandelingsposisie veel swakker is as wat hy voorgee.
Gesondheidsorgbesighede moet so ver as moontlik van oornakoming en voorafnakoming van die NGV wegstuur en eerder 'n sake-soos-gewoonlik, waardetoevoegende kliëntefokus prioritiseer waar haalbaar.
Ons moet die onafhanklikheid van gesondheidsorgverskaffers beskerm om te verseker dat hulle kan voortgaan om gehaltesorg te lewer en uit te brei.
Verwante Artikels:
Teenstand teen die NGV en beurtgesondheid — Artikel deur Piet le Roux (Uitvoerende Hoof) en Russell Lamberti (Hoofekonoom).
Sakeliga bring Aansoek teen NGV-wet — Aansoek teen nasionalisering van gesondheidsorg in Hooggeregshof gebring.
Sakeliga dien NGV-hofaansoek in om die staat se vertragingstaktiek teen te staan — Sakeliga se aansoek verseker dat indien hofsake opgeskort word, die inwerkingstelling van die NGV eweneens opgeskort moet word.
