|
airplanes airport blurred parked (1)

Sakeliga loods hofsaak om BEE in internasionale lugdienste om te keer

Sakeliga betwis onwettige oplegging van BEE-vereistes vir lugdienslisensies.
Sakeliga Staff
7 Oktober 2025

Sakeliga het ’n hofsaak aanhangig gemaak om te verhoed dat BEE-vereistes internasionale lugdiensverskaffers beperk of uit die land dryf.

Die regsuitdaging teen Suid-Afrika se Internasionale Lugdiensteraad (IASC) spruit uit die raad se oplegging van rasgebasseerde lisensievoorwaardes op internasionale lugdiensoperateurs.

Die IASC is ’n statutêre liggaam wat internasionale lugdienste na en van Suid-Afrika reguleer.

As ’n reguleerder vir internasionale lugdienste het die IASC se BEE-eise ernstige gevolge. Internasionale lugdiensoperateurs het tot dusver probeer om die raad se eise diskreet teë te staan, maar die situasie ontmoedig passasiers- en vraglugrederye, asook ander oorgrens operateurs, om hul dienste na Suid-Afrika uit te brei of te behou.

Indien dit nie omgekeer word nie, kan dit die beskikbaarheid van internasionale lugdienste in Suid-Afrika ernstig beperk, met minder keuses en hoër koste vir kliënte.

Volgens die Wet op Internasionale Lugdienste moet die raad uitsluitlik fokus op operasionele kapasiteit, veiligheidstandaarde en verantwoordbare plaaslike eienaarskap- en beheervereistes.

Die IASC het geen regsbevoegdheid, plaaslik of internasionaal, om BEE of ander transformasieverbintenisse te vereis nie.

Teen die einde van 2023 het dit egter onder Sakeliga se aandag gekom dat BEE besig was om ’n amptelike vereiste van die IASC te word. Sakeliga het toe versoeke om inligting ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting aan die IASC en die minister van vervoer, wat raadslede aanstel, gerig.

In Mei 2025 het Sakeliga uiteindelik raadsnotules bekom wat bevestig dat die IASC die uitreiking van internasionale lugdienslisensies belemmer en gedreig het om dit te weier deur willekeurig B-BBEE-sertifisering en transformasieverbintenisse te eis.

Ekonomiese en diplomatieke gevolge

Om van groot internasionale lugrederye te vereis om B-BBEE-sertifisering of transformasieverbintenisse voor te lê, is nie net onwettig nie, maar ook onprakties en absurd.

Buitelandse lugrederye wat internasionale roetes na en van Suid-Afrika bedryf, het geen verpligting of vermoë om hul wêreldwye bedrywighede te herstruktureer om by Suid-Afrika se rassedemografie te pas nie.

Deur kriteria voor te skryf wat niks met operasionele standaarde, veiligheid of diensgehalte te doen het nie, ondermyn die IASC kommersiële vryheid en bedreig dit die volhoubaarheid van internasionale lugdienste na en van die land.

Hierdie omstredenheid, wat reeds vir minstens twee jaar aan die broei is, dra by tot diplomatieke spanning in ’n tyd van groeiende ontnugtering met die regering se toenemende rasgebasseerde eienaarskap- en indiensnemingsbeleide.

Sou die IASC en ander respondente, soos die minister van vervoer, kies om Sakeliga se aansoek teen te staan, sal dit die regering se volgehoue verbintenis toon om BEE vir alle ekonomiese aktiwiteit verpligtend te maak.

Regsuitdaging en vorige sukses

Sakeliga se litigasie poog om die IASC se besluite om lisensies te weier of aan BEE-vereistes te koppel, te hersien en tersyde te stel, en om te verklaar dat die raad se optrede onwettig, ongrondwetlik en buite sy statutêre bevoegdheid is.

Hierdie saak volg op Sakeliga se gevolgryke oorwinning in Augustus, toe die hof beslis het dat die plaaslike reguleerder, die Lugdienslisensiëringsraad (ASLC), daarvan moet afsien om die Wet op Breëbasis Swart Ekonomiese Bemagtiging en ander rasgebaseerde vereistes in sy lisensiëringsbesluite toe te pas.

Sakeliga wil nou kommersiële vryheid vir internasionale lugdiensverskaffers en kliënte herstel, soos wat dit reeds met plaaslike lugdienslisensiëring bereik het.

Nog ’n voorbeeld van Derde Golf-BEE

Die IASC se optrede is nog ’n voorbeeld van sogenaamde Derde Golf-BEE.

Onder Derde Golf-BEE gebruik staatsinstellings lisensiëringsprosesse om die invloed van rassebeperkende beleide tot in die privaat sektor uit te brei. Waar vroeëre vorme van BEE hoofsaaklik op besighede wat met die staat wou kontrakteer van toepassing was, probeer reguleerders nou om BEE ’n lisensievoorwaarde vir alle sakebedrywighede te maak.

Sakeliga se jongste BEE-litigasie het ten doel om huidige en voornemende internasionale lugdiensoperateurs te beskerm teen onaanvaarbare vergrype. Daarmee saam, die belange van besighede wat afhanklik is van betroubare en mededingende internasionale lugvaartdienste.

Hulpbronne

  • Klik hier vir die kennisgewing van mosie en funderende verklaring soos ingedien by die Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof.
  • Klik hier vir meer inligting oor Sakeliga se vorige saak teen die Lugdienslisensiëringsraad.
  • Klik hier vir ’n 5-minute verduidelikingsvideo oor 3de Golf-BEE.